Dié Vrystaatse seuntjie het in Welkom sy laerskoolloopbaan voltooi en het saam met sy ma en dominee-pa na Potchefstroom verhuis waar hy by Gimmies hoërskool aangesluit het. Hy eindig saam met ander studentevriende in Patria manskoshuis by NWU op en skop sy studies in B.com Ondernemingsbestuur af. Hy moes woeker om saam met sy studenteliefde, wie nou sy vrou is, sy studies te voltooi, aangesien hulle saam die beroepswêreld wou betree.
Paul en Janie is in 2012 getroud en het hul in Pretoria gevestig. Janie het haar onderwysloopbaan begin en Paul het by Aros begin werk waar hy tussendeur sy honeursgraad in Personeelbestuur en Strategiese Ondernemingsbestuur voltooi het. Hy was vanaf 2016 as die Operasionele Bestuurder by Akademia aangestel, en het tydens sy tydperk daar in 2019 sy MBA voltooi.
Die verhuising na Orania aan die begin van 2023 hanteer Paul en sy gesin as ‘n roeping. “Mens moet besluit wat jou roeping in die lewe is. Ons wil graag werk om ‘n verskil te maak en hier kan dit wat ons doen, vir ons nageslag iets beteken,” vertel Paul. Dié egpaar het self aan ‘n nageslag gewerk en hul dogtertjie, Annie (7), en seuntjie Jan (4), het natuurlik saam verhuis. Paul is baie lief vir lees, visvang en houtwerk, maar vrye tyd gebruik hy deesdae om met sy kinders te speel.
Hy gesels met ‘n aansteeklike energie oor die potensiaal van jongmense wat ‘n groot impak op hul gemeenskap kan maak waar daar gehalte onderwys verskaf word en die studente positief beinvloed word om hulself te wees. “BKO moet kapitaliseer op ons unieke eienskappe omdat opvoeding in ‘n veilige omgewing, by ‘n kampus sonder mure, wat deur jou eie mense gebou is, geskied. Wie wil nie so ‘n studentelewe geniet nie?”
Tydens die gesprek word dit gou duidelik dat Paul ‘n man met ‘n positiewe uitkyk op die lewe is. “Ek sien eerder geleenthede as uitdagings en dit hou my opgewonde vir wat ons bou.” Aangesien hy aan hegte familiebande glo besef hy dat sy vrou baie moes opoffer om die groot trek na Orania saam met hom te onderneem. Paul beskryf homself as ‘n aanpasbare wese aangesien sy kinderlewe in ‘n pastorie hom baie geleer het van ‘n verskeidenheid omstandighede waarbinne mens perspektief moet behou. “Die Here bly in beheer, ongeag wat ons doen en wat ons besluit,” voeg hy met ‘n glimlag by.
Hy bieg dat aanlyn aankope die aanpassing van die stad af makliker maak. “Ons was gelukkig om in die Moot te bly, wat ook maar platteland was.” Hy sien daarna uit om Oraniërs te ontmoet wat soos hulle glo, want volgens hom is die gemene deler die geloofsgrondslag. Hy en Janie wil besluite in die beste belang van hulle kinders neem sodat hulle nie eendag die massa se standaarde as die norm sal aanvaar nie.
Dié jongman hou van detail wat ‘n volledig afgeronde prentjie moet vorm en daarmee ‘n duidelike boodskap moet oordra. As deelnemende spanleier geniet hy dit om ‘n dinamiese groep te lei sodat elkeen tot sy reg kan kom.
Stilsit is egter nie vir hom ‘n opsie nie. Hy verduidelik dat hy iets van alles kan doen en hy verkies om met ‘n projek besig te wees, eerder as om te sit en wag vir tyd om hom in te haal. Die feit dat hy doelwitgedrewe is voorkom verveling en alhoewel hy glo dat spanlede se modus operandi kan verskil, is ‘n gemeenskaplike doel beslis belangrik. Deur met mense te werk laai sy energievlakke. Hy erken dat administrasie, alhoewel dit belangrik is, sy energie tap.
Vir Paul is daar drie fokusareas in Orania wat aandag moet geniet. Die dorp-tot-stad-tot-streek droom is vir hom belangrik voordat daar na die land gekyk kan word. “BKO en sy studente vorm ‘n brug tussen stad en streek,” voer hy aan. Hy noem dat Orania se behoefte oor vyf jaar anders sal lyk, maar dat ‘n studentegemeenskap geleenthede skep. “Ons het ‘n hoopvolle toekoms met ons oë op Christus wat vir ons toekomsperspektief gee. Ons is besig met Sy werk. Dit is nie in ons hande nie.”
Hy glo daarin om in spanlede se sterk punte in te speel deur krities te wees, maar ‘n veilige omgewing te skep waarbinne ‘n opinie gelewer kan word. “Ons moet kan verskil om uiteindelik die regte besluit te kan maak. Die beste is nie noodwendig reg nie. Solank daar vertroue is, skep dit ‘n veilige omgewing om in te verskil.” Paul vertel dat hy maklik die mens binne die konteks kan raaksien en dat dit sy empatiese sy voed.
Paul raak opgewonde wanneer hy voort borduur oor die belang wat Orania daarby het om ‘n studentegemeenskap te akkommodeer. “’n Gemeenskap bestaan nie net uit een ouderdomsgroep nie. Orania sluit ook die volle spektrum van baba tot bejaarde in. ‘n Gesonde en veilige omgewing beinvloed ‘n student se lewe. Aangesien dit ‘n tydperk is waarin ‘n student nog mens word, bevestig dit juis die belangrike rol van ‘n gemeenskap.”
Hy lê gedurig klem op gehalte opleiding wat ‘n student se betrokkenheid en terugploeg in ‘n gemeenskap tot gevolg kan hê. Paul se vyf-jaar-plan sluit ten minste 1000 studente uit ‘n breë demografiese gebied in. “Ons het die wilskrag, energie en plek om dit te bereik. BKO se studierigtings moet ook voldoen aan die behoefte van die dorp sodat ons na ‘n stad kan groei. Gehalte opleiding, met ‘n nog sterker fokus op landbou en heelwat nuwe kwalifikasies vorm deel van my toekomsdrome.”
Janie, Paul se vrou, is ‘n onderwyseres. Deur hul onderskeie opvoedkundige rolle weet hy dat die nood vir kwaliteit onderwysers groot is en verstaan hulle dat die impak van ‘n opvoeder enorm is. Hy noem dat die voorbeeld wat gestel word so belangrik is soos die kennis wat oorgedra word.
Paul se menswees is diep geanker in hoop. “Ons skep hoop deur opleiding en die arbeid wat ons daaraan koppel. Om ‘n toekoms te bou moet daar hoop wees. BKO bring baie nuwe voete na Orania. Deur ‘n gebalanseerde lewe aan ons studente voor te hou skep ons gebalanseerde en verantwoordelike volwassenes.”