Koerania

Twee ysters voltooi die Twee Oseane ultra marathon

Joost Strydom en Christo Muller is twee dapper drawwers en het onlangs die Twee Oseane ultra marathon saam met nagenoeg 11 000 ander atlete suksesvol voltooi.

Christo vertel dat dit sy 23ste Twee Oseane was en na ‘n besering was hy vir 4 maande van die pad af en kon eers 1 Maart weer begin oefen. Daar is van blok A tot N weggespring en elkeen se kwalifiserende tyd het bepaal hoe laat jy kon wegspring. Blok A het om 05:15 weggespring en daarna het elke blok met 2 minuut intervalle gevolg.

“Ek het met n stewige pas begin en my gemiddeld per kilometer op 38km was 5min en 3 sekondes toe ek Houtbaai binnedraf. Hy beskryf dat die wind by Vishoek redelik sterk van voor was, maar daarna het die wind gelukkig gedraai sodat hulle die wind van agter kon kry. Na 38km het Christo geweldige pyn in sy bene begin ervaar en moes hy sy pas drasties stadiger maak.

Joost het sy eerste Twee Oseane as ‘n uitstekende Comrades voorbereiding beleef omdat dit ‘n ultra maraton is met baie berugte bulte.

Aangesien die Comrades vanjaar opdraende is het dit baie gehelp om hierdie ikoniese marathon te doen.

“Ek’t die marathon beslis onderskat en op ‘n stadium gewonder hoe mens daai afstand doen en dan nog 30km moet gaan tydens ‘n Comrades,” erken hy.

Hy besef dat dit nou tyd is om te piek voor Comrades. Dit sluit meer as 100km per week se hardloop in, en in die laaste maand word dit drasties minder gemaak gedurende “taper” fase wat mens al hoe minder en uiteindelik niks doen.

Die laaste groot wedloop is die N12 Ultra marathon wat 53km strek van Potchefstroom na Klerksdorp.

“Ek is tevrede met my tyd. Ek wou onder 5 ure doen en het bitter hard geveg daarvoor. My tyd was 4.55.26 en ek is dankbaar daarvoor. My fiksheid is beslis nie waar dit moet wees nie, want mens kort meer tyd op die voete. Soms is dit moeilik met ‘n Orania skedule,” sê Joost.

Christo het die marathon in 5.25 voltooi en sien daarna uit om volgende jaar terug te wees vir nommer 24!

Hulle vertel albei dat die marathon baie goed georganiseer was en dat die skare se aanmoediging ‘n atleet deur die moeilikste dele dra.

Post Views: 127