Lede van die taak- en protospan beplan al maande aan ‘n adrenalienoefening wat hulle op ‘n emmerlys as ‘n hoogtepunt kan aftik. Theuns Wessels, Joost Strydom, Daniël Coetzee, Cobus Kirsten en kampkok, Fanie Geldenhuys, het die tog aangepak.
Die ervaring wat toe in Parys, Vrystaat, afgespeel het, word na afloop daarvan as ‘n adrenalienervaring soos min ander ervarings beskryf.
Theuns Wessels vertel dat hy dit vir enige persoon sal aanbeveel wat hom of haarself wil uitdaag. “Daar word baie kennis binne ‘n dag en ‘n half opgedoen wat jou brein rek,” vertel Theuns.
Joost sê dat die daad by die woord gevoeg is nadat hy met Freddie Peters, ‘n vriend in Parys, ‘n gereelde valskermspringer, reëlings getref het. Wat hulle gedoen het met die hulp van instrukteurs by Skydive Parys word geassimileerde vryval genoem. “Die uitkamp en kuier was ‘n goeie spanbouaksie. ‘n Paar van ons wou dit lankal doen en die feit dat jy onder druk moet dink en doen is altyd vir ons ‘n goeie uitdaging,” sê hy.
Daniël het die protospan verteenwoordig en vir hom, wat ook ‘n vlieënier is, was dit ‘n lieflike ervaring waar hy opnuut respek gekry het vir die kragte van die natuur. Hy verduidelik dat dit wêreldklas vryvalopleiding was. “Elkeen het homself en mekaar beter leer ken deur die unieke ervaring en dit was ‘n passievolle span instrukteurs wat die opleiding aangebied het,” vertel hy.
Vir Cobus, wat ‘n fiksheidsbewuste man is, was dit ook ‘n besonderse ervaring.
Joost eindig sy vertelling met ‘n opmerking dat dit hom trots gemaak het om te sien dat die veiligheidsmanne nie getwyfel het toe dit by die uitvoer van die sprong gekom het nie. “Dit maak dat jy nog meer vertroue in ‘n spanmaat kry.”