Volgens verskeie kenners word die woorde “sit stil” en “bly stil” die meeste deur onderwysers in klaskamers gebruik. Alhoewel die belangrikheid van ‘n gebalanseerde lewe gepredik word, kan geen kind hul volle potensiaal bereik sonder om te BEWEEG en te KOMMUNIKEER nie.
Volgens Sanet van Deventer, eienaar van EduTainment, behoort elke kind volgens persoonlikheid hanteer te word, en sy bevestig dat dit verseker moontlik is! Sy noem dat die ekstroverte geleentheid gegee moet word om in groepe te werk, te beweeg deur die uitdeelwerk te doen of boodskappe te neem. “Die individualiste moet uitdagings gebied word, geleentheid gegun word om te ontdek, en hul idees, hoe vreemd ookal, te kan voorlê of vertel. Die kinders wat van voorspelbaarheid en roetine hou moet weet wat van hul verwag word, en toegelaat word om rustig en in detail te kan ontdek en ondersoek,” skryf sy.
Petrus Jacobs, eienaar van Kansvatter redenaars en ‘n Besigheidsmentor sê: “Kommunikasie is ‘n integrale deel van ons menswees. Mense gebruik kommunikasie as ‘n middel tot ‘n doel. Ons gebruik woorde om uitdrukking te gee aan ons emosies. Goeie, duidelike en spesifieke kommunikasie vorm ‘n integrale deel van ouerskap.
Die moderne ouer wat hul kinders vir die moderne snelveranderende wêreld grootmaak, het ongelukkig nie meer die luuksheid om te kan glo dat kinders gesien maar nie gehoor word nie. Kinders moet gehoor word, want dis juis hulle wat die leiers van more is. Die wens is dat kinders wêreldklas sprekers sal word, sodat elke raadsaal in die wêreld van hulle kennis sal neem.”
Koerania wens elke opvoeder en ouer ‘n produktiewe 2024 toe!