Koerania

Dia van Staden – Redakteur

In Suid-Afrika is daar op 23 Maart 2020 ‘n staat van inperking aangekondig. Die grendelstaat het amptelik op 27 Maart 2020 om 00:00 begin en in die maande wat daarop gevolg het, het letterlik honderde mense Orania as ‘n opsie vir hul toekoms oorweeg. Rekord besoekersgetalle is vir Orania gedokumenteer en die navrae het uit verskeie oorde, selfs vanuit internasionale geledere, ingestroom.
Op 1 Desember 2020 het Jan en Joelean Snyder vanaf Pretoria gereis om Orania hul tuiste te maak. “Die grendelstaat het ons hierheen gedwing,” vertel Joelean tydens ‘n hartlike onderhoud met Koerania. Sy vertel van hul besigheid wat in stilte verval het. “Personeel en fabriekhuur moes betaal word en sonder verkope was dit natuurlik onmoontlik om vol te hou.”
Haar matriekjaar sluit sy in 1971 by Stellenbosch Hoër Handelskool af. “In daardie jare was daar baie werksgeleenthede vir ‘n vrou as jy sekretariële vakke geneem het.” Joelean sluit by haar oudste suster in Welkom aan, waar daar meer werksgeleenthede as in die platteland was. Sy werk vir 25 jaar as ‘n klerk in die bankwese. Haar lang loopbaan begin by United Bouvereniging wat later United Bank word en tans as ABSA bank bekendstaan. Van Welkom af is sy later na die Lytteltontak in Pretoria verplaas.
“Ek was gelukkig in my werk en 25 jaar in een beroep het vir my standvastigheid beteken. Jy kon bevorder word en daar was altyd nog ‘n vlak waarheen jy kon werk.” As kontroleerder oor 11 tellers het haar finansiële vernuf sterk ontwikkel.
Op 22 jarige ouderdom het ‘n vriend ‘n toe-oog-afspraak tussen Jan en Joelean bewerkstellig. “My eerste indruk was, sjoe, dit is ‘n groot jongman,” glimlag sy. Hulle het dadelik aanklank by mekaar gevind en in Augustus 1975 het Joelean aan Jan Snyder verloof geraak. Hulle is sommer kort daarna op 20 Desember 1975 in Welkom getroud. “Dit was nog die goeie tradisie dat ouers toestemming moes gee vir ‘n egpaar om te trou.”
Die aanbod van ‘n vennootskap het vir hul die geleentheid gebied om in Orania te hervestig.  Dié aanpassing in ‘n klein dorpie soos Orania, waar ‘n klein verskeidenheid winkels aankope bemoeilik, was nie noodwendig eenvoudig nie. “Aangesien Sondag in Orania gerespekteer word, moet mens vroegtydig beplan om seker te maak dat jou naweekinkopies gedoen is,” vertel sy.
Joelean het in Fraserburg grootgeword en is dus bekend met die Noord-Kaap se klimaat. Sy het in hul Centurionfabriek, vanwaar slegs aanlynverkope gedoen is, die beplanning, pak van bestellings en personeelbestuur hanteer.
Sy is lief vir mense en die skuif van ‘n fabriek na ‘n winkelopset het haar soos ‘n handskoen gepas. Aanvanklik het die winkel en die fabriek twee kleinerige spasies in die Karoolandsentrum opgeneem.
Meer as ‘n jaar gelede is daar besluit om Ougoud Toffies se winkel na die Smaragsentrum te skuif. Die fabriek word nou in Sonpark se Blikkiesdorp gehuisves waar daar ‘n groot hoeveelheid toffiegeure, elk met unieke omhulsels, gemaak word.
Die mees gewilde vraag van toeriste en ander besoekers aan die toffiewinkel is: “is julle gelukkig hier en bly julle lekker?” Sy vertel dat sy ‘n eerlike standaard antwoord het: “Ek bly lekker en ons is gelukkig hier. Soos in enige plek is daar die positeiwe en negatiewe ervarings. Nêrens is 100% perfek nie.”
Dié 72-jarige Joelean vertel dat kliënte hul toeristewinkel geniet en vertel gewoonlik hoe verras hulle is oor die groei, skoonheid en veiligheid van Orania, teenoor wat hul elders of in hul eie tuisdorpe ervaar. “Besoekers dink soms ons is ‘n wit plakkerskamp en wanneer hulle hier kom is dit vir hulle verblydend om te sien wat werklik hier aangaan. Dit wys vir jou dat dit gedoen kan word!”
Sy voel wel dat die gemeenskap se betrokkenheid by besluitnemingsprosesse aandag kan geniet. “Ons is min genoeg dat daar openhartige gesprekke of geleenthede kan wees waar ‘n groter deel van die gemeenskap die leierskap bystaan voordat ‘n formele besluit geneem word,” sê sy. Joelean besef dat dit nie regverdig sou wees om te verwag dat ‘n dorp se besluitnemers in almal se geite hoef te voldoen nie.
Soos die meeste ander vroue in Orania is skoonmaak en die normale huishoudelike take deel van haar tydverdryf. Sy kyk graag televisie wanneer sy wil afskakel. “Ek geniet dit as Jan vir ons ‘n vleisie braai terwyl ek ‘n glasie Rosé kan geniet.” Hul dogter, Janine (42), en kleindogter Annabelle (10) woon in Wemmershoek. Tydens hulle gereelde telefoniese gesprekke deel Annabelle graag haar toetsuitslae en dan spoor ouma en oupa haar aan om haar skoolloopbaan moedig aan te pak. Van die eienskappe wat hul by haar probeer vaslê is om eerlik te wees, maar om nie onnodige konflik aan te wakker nie.
‘n Sterk sin vir dissipline en eerlikheid beskryf Joelean as haar sterkste eienskappe. “Ek is liewer eerlik en vat wat daarmee saamkom as ek teenkanting sou kry.” Dié vrou wat mense graag aanmoedig om voluit te leef en die mooi in die lewe raak te sien, delegeer met moeite. “Ek doen dit eerder self, want dan kan ek net myself blameer as dit verkeerd is,” deel sy ernstig.
Die beste raad wat sy ooit van haar rustige pa gekry het: “Gee altyd jou beste, want dit is waaroor jy beheer het. Moenie iemand anders probeer wees nie.”
Vakansie by die see skep vir haar die geleentheid om kalm te raak, aan niks te dink nie, terwyl sy die uitsig geniet. Sy verwys na haar eertydse hoof by United Bank, Juliana Visser, as sy aan ‘n rolmodel dink. “Sy was ‘n sterk en netjiese vrou wat haar lipstiffie altyd byderhand gehou het voordat sy iemand te woord sou staan.”
Hul handhawing van hoë kwaliteit produkte, alhoewel dit ‘n duur oefening is om die rou produkte na Orania te kry, bly ‘n geheim. “Ons produseer nie massas nie. Die feit dat die toffies handgemaak is en ons goeie kwaliteit bestandele gebruik, sorg dat dit gewild bly.” Sy verkies self die dubbellaag en soutkaramel toffies as ‘n versnapering.
Ougoud Toffies se grootste afsetgebied is tans die Kruger Nasionale Park. Aankopers vorm die kern van hul span en nuwe aankopers regoor die land word steeds deel van hul span. Joelean bevestig dat die toffiestafies, geskenksakkies en unieke toffieplakke die mees gewilde opsies vir toeriste.

As ‘n opwindende geleentheid kan enige besigheid hul eie ontwerp vir hul stuur sodat hul unieke handelsmerk op die etikette kan verskyn. Daar moet ten minste 100 van ‘n produk bestel word vir dié ontwerpe. Hierdie tyd van die jaar is kersgeskenke in aanvraag en bly die Orania-omhulsels in aanvraag.

Ougoud Toffies verskaf ook gebak, ingelegde konfyt en vrugte, gegeurde souse, biltong en pekanneute uit die omgewing se boorde. Maak ‘n draai by Joelean en geniet die Toffietannie se gasvryheid!

Post Views: 124