Koerania

Foto: Riaan Badenhorst

Sy begin haar dag met gemmertee en ‘n suurlemoensappie, want dit gee haar dag skop! Elize Ungerer (81) het in Januarie 1994, as werknemer van die Afrikaner Volkswag, vanaf Pretoria na Orania verhuis. Haar eggenoot, Jack, was goed bevriend met die Boshoff-familie, wat die skuif vir haar en haar skoonma meer draagbaar gemaak het.

 

Tannie Elize, soos sy alombekend is, leef met ‘n dankbare hart. “As ek soggens my oë oopmaak en ek besef ‘n nuwe dag het aangebreek, vul dit my met ‘n onmeetbare dankbaarheid,” sê sy. Die feit dat sy kan voel, sien, hoor en uit die bed uit kan opstaan bly vir haar merkwaardig. “Ek staan nie meer so flink soos Fanus Rautenbach gesê het uit die vere nie, maar ek kan vir my ‘n koffie maak, na die voëls se gesange luister en nog ‘n dag tegemoet gaan met vreugde in my hart,” vertel sy glimlaggend.

 

Die deftige blomliefhebber is steeds drie oggende ‘n week vir ‘n halfdag op haar pos as die administratiewe beampte van die Orania Beweging, waar sy al dertig jaar werksaam is.

 

Ek beskou dit as ‘n voorreg om nog te kan werk, want dit hou my verstand aan die gang. Ek kan in die huis sit en myself jammer kry en vergaan, maar ek sien nie daarvoor kans nie. Daarvoor vloei die De Wet-bloed te sterk deur my are.” Sy het vele goeie vriende met wie sy gereeld kommunikeer.

 

Sy laat haar nie deur die tegnologie van ‘n selfoon afskrik nie. Die video-oproepe van haar vêr of naby kinders is vir haar ‘n vreugde. Dié moeder van vier kinders spog graag met foto’s van hulle met die kleinkinders. Haar en Jack se oudste seun John, en haar jongste dogter, Jo-Anne, woon in Mackay in Australië. Sy en Jo-Anne gesels elke vroegoggend ‘n paar woorde met mekaar om seker te maak sy is gesond en aan die gang. Haar seun Gerald woon in Krugersdorp en hy is een van ‘n tweeling. Sussie Esther woon in Mosambiek. Die vier kleinkinders, drie dogters en een seun, plus die twee agter-kleinkinders, een seun en een dogter, is haar hart se punt.

 

Haar opinie van jong-mense word sterk gekoppel aan die verhouding van kinders met hul ouers. Sy is bewus van dié wat nie saam wil trek aan die wa nie en dan hul eie idees en wilde koppe wil volg. Sy beklemtoon dat dié wat na hul ouers luister eendag dié sal wees na wie ‘n gemeenskap kan opkyk. Haar hart en stem word week as sy aan verslaafdes dink. “Ek kry verslaafdes so jammer.”

 

Die wysheid van die grysheid kom dadelik na vore toe sy gevra word wat haar raad aan die jeug is. “Kry vir jou iemand na wie jy kan opkyk en van wie jy kan leer, ‘n rolmodel of mentor.” Dit herinner haar aan mevrou Anna (Verwoerd) Boshoff, haar rolmodel, wat volgens haar oor ‘n brein beskik het wat enige mens kon begeer. Haar handel en wandel was volgens oorlewering navolgenswaardig.

 

Tannie Elize het ‘n fyn aanvoeling vir mense se emosies en bederf kollegas of vriende graag met mooi blomme uit haar tuin. Sy is baie lief vir orgideë en rose. Sy spog graag met die magdom irisse in haar kleurvolle tuin. Sy deel graag plante en haar kennis met ander. Die Orania Beweging kantoor pronk gereeld met ‘n rangskikking wat haar blomtuin en behendige hande geskep het.

 

Alhoewel sy baie lief daarvoor is om in haar tuin te stap en blomme te pluk het sy in 2021 ‘n heupoperasie on-dergaan om haar be-weeglikheid te ver-beter en die buk-aksie weer moontlik te maak. Sy sterk tans aan na die groot operasie wat sy baie dapper aangepak het. Haar gehoor is nie meer so skerp soos jare gelede nie. Intussen, voordat sy haar gehoorstuk aangeskaf het, het sy maar vir mense gevra om hulself te herhaal, as sy nie kan hoor nie. Sy beskou die verlies aan gehoor as ‘n tragedie, want interessante geselsies is vir haar soos kos en water.

 

Haar liefde vir kosmaak het nie, vandat haar man sestien jaar gelede oorlede is, afgeneem nie, maar sy spot oor die hoeveelhede wat drasties verminder het. Haar lusernsop is ‘n gunsteling onder vriende en kollegas.

 

Sy verduidelik dat sy nie werklik nog drome het wat bewaarheid moet word nie, maar dat die behoefte om haar agter-kleinseun in Australië fisies te ontmoet en vas te hou ‘n besliste droom is. Sy twyfel egter of dit ooit bewaarheid sal word.

 

Die woordjie “as” het sy lankal mee vrede gemaak, omdat ‘n mens nie die horlosie kan terugdraai nie. “Dit is nie ‘n maklike woord nie, omdat ons nie in die oomblik leef nie, en altyd op soek is na iets in die verlede of die toekoms.” Sy het ‘n bewuste besluit geneem om elke dag met nuwe moed aan te pak, sonder ‘n “as”.

 

As jy van die ekstra myl wil praat, kan tannie Elize se naam sinoniem daarmee genoem word. Daarom dat vriende vir haar belangrik is. “Ek lewe vir mense wat my verstaan en ek is lief daarvoor om te gee.”

 

Tuis wag haar vyfjaar-oue kat, Vlenters, wat sy as ‘n babatjie gekry het, haar in. Blykbaar het Vlenters met sy aanneming alles gebreek en daarom glo sy dat die kieter wildekatbloed in hom het. Tannie Elize se hande moet altyd besig wees. Sy hekel, brei en doen kralewerk. Haar gebreide slaapsokkies skenk sy graag vir die bejaardes by die Karoosig Aftreeoord. “My man het altyd gesê hy gaan eendag ‘n breinaald en wol saam met my in my kis sit,” vertel sy met heimwee.

 

Haar geloof is ‘n kleinood wat sy met dankbaarheid koester. “Ek glo wat ek ontvang is ‘n gawe van God, en daarvoor moet ek dankbaar wees. Ons mense sê nie genoeg dankie vir alles wat ons onverdiend ontvang nie.”

 

Sy drink elke dag knoffelpille, vitamine C, B-kompleks, magnesium en D3, want sy verkies om kieme op ‘n natuurlike wyse te beveg. Sy kan nie onthou wanneer laas sy verkoue gehad het nie. “Aanvullings is goed vir jou, maar ‘n hoop pille kan nooit goed vir jou wees nie.”

 

Aangesien twee-en-tagtig haar volgende mylpaal is, is sy onseker wanneer haar werkshoed opgehang sal word. Sy glimlag as sy dankbaar gesels oor die groot genade dat haar brein nog helder is.

 

“Mens moet altyd hoop hê. Hou jou brein met opbouende goed besig. Kry ‘n stokperdjie en moenie heeldag televisie kyk nie. ‘n Goeie nagrus is baie belangrik.

Ons kry baie meer as wat ons verdien.”

Post Views: 130