Op Vrydag 8 Desember om 20:00 het byna dertig individue die jaarlikse Vasbyt van 60km aangepak met elk ‘n verpligte 10kg rugsak oor die skouers. Water, smeermiddels, warm klere en medikasie maak die grootste deel van die gewig op. Nie almal wat weggespring het, het die staptog voltooi nie, want verskeie kwale van krampe tot waterblase het sommige moedige stappers gedwing om die aftog te blaas.
Die staptog geskied op ongelyke terrein waar daar regdeur die nag gestap word en daar weinig geleentheid is vir ‘n drentelstap. Die laaste ongeveer 7km het ‘n paar vrywillige stappers uit die gemeenskap by die groep op die R369 aangesluit om die slotsnikke van die Vasbyt te beleef. Selfs toe is daar nie gedrentel nie. Met die huis binne bereik is daar baie vinnig gestap en selfs gedrafstap tot by die veiligheidsgebou in Orania.
Dié jaarlikse uitdaging is vanjaar skuins na 07:00 die Saterdagoggend afgehandel.
‘n Uiters dapper student het die agterhoede gedek en wou soms moed opgooi. Hy is deur sy makkers bemoedig en daar was nie ‘n kans dat hulle hom sou toelaat om nie sukses te behaal nie. Dr Louis Bothma was die oudste persoon wat die Vasbyt flink voltooi het. “Dit was nie maklik nie,” deel hy met Koerania se redakteur.
Die kameraderie en spangees wat deurlopend geheers het, was die faktor wat die klein groepie wel laat klaarmaak het. Dié jaarlikse fondsinsameling vir toerusting wat die Orania Veiligheidsdienste se Taakspan benodig, sal in 2024 weer aangebied word.