Dia van Staden – Redakteur
Die Wafelhuis het in April 2023 sy roomys- en wafeldeure geopen. Ilze Smit, die eienaar, is innoverend en hou van vernuwing. Haar gunsteling op die spyskaart is ‘n Chai dubbeldik melkskommel. “Dit smaak verruklik,” sê sy terwyl haar kenmerkende klokhelder lag opklink.
Ilze en Derick Smit het gedurende Desember 2021 vanaf die Wes-Kaap na Orania verhuis en het gou tot die gevolgtrekking gekom dat hulle die hitte van die Karoo met iets kouds sal moet probeer verdryf. In April 2023 kon dié wat warm kry die Wafelhuis as ‘n roomyshawe ontdek.
Sy vertel dat die kies van ‘n naam ‘n uitdaging was, maar dat sy uiteindelik tevrede was met Wafelhuis. Daar is hoofsaaklik met draairoomyse en wafels afgeskop, maar tans word daar byna maandeliks iets nuuts op die spyskaart of die rakke bygevoeg.
Dit is alombekend dat Orania slegs twee seisoene het, winter en somer. Wanneer die hittige somer wyk maak dit plek vir ‘n uiters geniepsige winter. Daar is egter planne beraam en die soutwafels wat as ‘n plaasvervanger vir ‘n vervelige ontbyt dien, bevat spek, eier, sampioene, uie en kaas op ‘n smullekker wafel. Die heerlike pannekoekopsies is baie gewilde winterkeuses.
Die somer het egter skielik opgedaag en nou is dit weer tyd vir kinderpartytjies met roomyskoeke, balonne, gekleurde bordjies en allerhande temaversierings wat alles by die Wafelhuis te koop is. Tussen 6 en 20 kinders kan vir ‘n partytjie geakkommodeer word. Elke maatjie se geluksakkie of boksie word volgens die tema en die ouer se begroting deur Wafelhuis voorberei.
Kinders kan in ‘n beheerde omgewing hulself geniet. Elkeen bou hul eie wafel deur ‘n bolaag van hul eie keuse op te sit en verder al die smaaklike opsies op die tafel te beproef. “’n Partytjie tuis laat jou met hoër kostes en die gemors om na die tyd self op te ruim. Hier doen die Wafelhuis se personeel dit vir jou,” sê Ilze.
“Ons hou geskenke en partytjiebenodighede in voorraad, want die ouers vind dit maklik om van ons instapdiens gebruik te maak kort voor ‘n partytjie gehou moet word of daar die laaste minuut geskenk vir ‘n maatjie gekoop moet word,” gesels Ilze.
Families en studente maak ook van geleenthede gebruik om in groepe saam te kuier terwyl daar aan ‘n soet draairoomys, kleurvolle bakkie met roomys of iets anders op die spyskaart gesmul word. Ilze verwys na hul een kliënt wat hul weekliks besoek en haar breiwerk saambring, omdat daar ‘n heerlike kuieratmosfeer met gewilde outydse musiek geskep word.
Die aanstel van personeel is ‘n gedurige uitdaging en sy vind dat mense aansoek doen om te oorleef, eerder as dat hul ‘n aanvoeling vir dienslewering of die produk sou hê. “In ‘n kliëntediensomgewing moet daar hart en toewyding wees. Dit moet amper ‘n tweede huis vir jou wees. As daar vir iemand kos voorgesit word moet dit uniek en lekker wees. Slegs as jy jou hart in jou werk sit, gebeur dit.” Ilze glo egter dat sy nou ‘n wenspan het!
Ander gunstelinge vir Ilze is hulle koffie, maar die gedurige toevoeg van nuwe produkte bly vir haar lekker. “Ons bekostigbare pryse en gehalte produkte moet vir elke besoeker ‘n aansporing wees om ons weer te besoek en by vriende aan te beveel.”
Gee vir haar die bosveld, ‘n lekker koppie rooibostee en ‘n kampplek waar jy vriendelike mede-kampeerders kan ontmoet, maar ook vrede kan ervaar. “Kamp het onlangs onder my vel kom inkruip en dit bly ‘n interessante ervaring,” sê Ilze.
Dié diereliefhebber sit met ‘n erf vol viervoetiges. Sommige van hulle diere is nog op die plaas in Villiersdorp, maar sy beoog om al die diere op ‘n stadium na Orania se vlakte-erf te skuif.
Ilze skram nie daarvan weg om haar eerbied vir God uit te spreek nie. “Dié mense wat nie lief is vir God nie, het Hom nog nie ontmoet nie,” verklaar sy onomwonde. “My eerste gesprek en laaste gesprek van die dag is met Hom. God is altyd daar vir jou, maak nie saak wat jou uitdagings is nie. My verhouding met hom is belangrik en deurslaggewend. As mense na jou kyk moet hulle wil hê wat jy het, en dit is nie aardse goed nie, dit is iets wat uit jou siel moet straal.”