Koerania

In die Dirkerfamilie loop die aanvoeling vir meganiese werk stewig in hulle bloed. Van al die vashou terwyl sy pa sweiswerk doen, kon Jaco Dirker in Standard 4 reeds agterkom dat skoolwerk hom frustreer. Sy oupa Hen Dirker kon nooit sweis nie, maar hy kon met sy hande werk en het ‘n kop vir kreatiewe plannemaak gehad.

Jaco Dirker (41) onthou hoe sy pa se motorhuis die plek was waar hy van meganiese werk geleer het. Sy skooljare het in Nylstroom begin, daarna was hy in Laerskool Pietersburg-Oos en toe in Theresapark Laerskool in Pretoria-Noord. Sy pa was die geduldige man wat Jaco toegelaat het om te eksperimenteer, terwyl sy ma gedurig teen die gevare gewaarsku het.

Een van sy seuntjieprojekte was om ‘n side cart vir sy BMX-fiets te bou. “Daar vind ek toe uit wat sweisbrand is. Sjoe, dit was ‘n seer les!”
Jaco se pa het die Dirkers se stamboom graag bestudeer en toe hy eendag in die Knysnagebied ry en ‘n Dirker naambord sien het hy dadelik navraag gedoen. In Sedgefield ontmoet hy toe vir oom Francois Dirker. Dié is toe sy oupagrootjie se seun en oupa Hen se half-broer. Daar leer hy ook dat die eerste Dirkers ossewaens in Uniondale gebou het.

Oom Rudolf Righter was hulle buurman. Hy het ‘n draaibank gehad en was altyd besig om iets te bou. Ek was altyd welkom om saam met hom te gaan timmer en sweis. Naweke en na skool het hy graag gaan hand bysit, want so het hy geleer.

In standerd agt kon Jaco al soos ‘n meester sweis. Hy het toe sleepwaens vir oom Rudolf begin bou. Hier ontstaan die plan om die skoolbanke, wat hom so frustreer het, te verlaat en sleepwaens en palisadestrukture te begin smous. “Kontant is mos koning,” glimlag hy oor sy besluit.

By oom Tienie du Plessis het hy kennis gemaak met vurkhuysers. Aangesien dit Jaco se belangstellingsveld was kon oom Tienie baie op hom steun vir hulp. “Sodra die werkdag verby was kon ek in die werkswinkel rondspeel waar hy my ruimte gegee het om te ontwikkel,” vertel Jaco oor een van sy mentors.

Oom Jimmy en tannie Dorothy van Rooyen was die eienaars van ‘n vervoermaatskappy waar Jaco se oudste boetie gewerk het. “Ek het graag daar gaan kuier en dan bietjie met die trokke se binnekant rondgespeel,” vertel Jaco. Hy het selfs die kragstuur van ‘n trok uitmekaar gehaal en probeer sinmaak van elke item se funksie. RSG was altyd in die agtergrond aan terwyl hy so gepeuter het. “My oupa het altyd RSG geluister terwyl hy gewerk het,” voeg hy by.
Jaco maak toe eendag ‘n voorstel om ‘n fout op een van die trokke te herstel. “Ek is toe reg en oom Jimmy bied vir my werk aan!” Die 4 vragmotors wat deur die dag gewerk het moes Jaco in die aande nagaan en klein probleempies uitsorteer. “Oom Jimmy kon staan en luister na die geluier van ‘n trok dan kon hy die fout uitwys.” Jaco gebruik toe sy eie spaargeld om saam met hom ‘n besigheid te begin waar hy vurkhysers herstel. Hy woon veilings op verskillende dorpe by waar hy gebruikte vurkhysers opkoop, herstel en weer verkoop.

Jaco se bantambakkie is afbetaal en hy wil toe bedank om sy eie besigheid onder sy pa se afdak in Theresapark te begin. Oom Jimmy het hom ‘n groot bonus gegee toe hy wegstap, want hy het vertroue in Jaco gehad om die geld wys aan te wend.

Die besigheid loop redelik goed, maar die bure begin kla oor die geraas en die swaarvoertuie wat in ‘n woongebied rondstaan. Jaco sluit by Nico du Plessis en sy besigheid in Pretoria-Wes aan. Forklift Master word in 2006 geregistreer. Nico leer vir Jaco van ‘n Rooi boek en hy leer hoe om debiteure te beheer. “Ek wil deur ‘n boek blaai om te sien waarmee ek werk.”

Jaco is in Desember 2006 met Gwen getroud nadat hy sy eerste huis gekoop het. Dit is ‘n reuse erf waarop ‘n huis en werkwinkel die ideale geleentheid gebied het om weer ‘n eie besigheid aan te durf. “Ek het vurkhysers op-en-af in die straat getoets en tannie Ralie kon die geraas nie meer verduur nie. Ons koop toe haar huis, want ek het toe lankal die droom om my eie vurkhysers te bou,” vertel Jaco met oorgawe.

Hy ondersoek alle moontlikhede en nog ‘n mentor, Dawid Laas, gee hom die geleentheid om op sy skrootwerf masjiene te meet en pas. “Onder ‘n boom in tant Ralie se erf is my eerste driewiel vurkhyser gebou,” sê Jaco trots. Hy erken dat dit ‘n vreeslike groot en vinnige leerskool was. Hy het alle tekeninge met potlood en liniaal gemaak soos wat daar gebou is. Sy eerste kliënt was so ingenome dat hy in 2012 meer bestel het.

“Ek kom toe te hore van ‘n sagterwareprogram waarmee jy ‘n model kan bou, Solid Works. Ek het lank gesit met tutorials tot ek die prosesse onder die knie gehad het. Die hoeveelheid kundige mentors wat ek op my pad gehad het was fantasties. Eksperimente het my baie geld gekos, maar universiteitsgeld betaal vir foute,” vertel hy ewe eerlik.

Nadat Jaco onder andere steenlaaiers vir ‘n kliënt in Namibië gebou het en ‘n drieton bandmasjien vir myne in die Kongo, buiten unieke vurkhysers, het die grendelstaat hom ook gedwing om af te skaal en te herbesin oor die lewe.

Hulle het emigrasie oorweeg, maar wou nie werklike oorsee gaan nie en hy het geweet hy wil nie vir ‘n baas werk nie, want hulle sit ‘n plafon op jou potensiaal. “Ek gaan moeilik met vakansie, want ek wil net altyd huistoe gaan.” Hy span gereeld die onthou van radiostories in wanneer daar scenarios in sy kop uitspeel.

Nico du Plessis het vir Jaco van Orania vertel. Hy het Dana Snyman se boek, Agterpaaie, gelees en goeie inligting daaruit gekry. Hy het ver regse, bakleierige mense verwag en toe kom hy agter dat die Afrikaners slegs bakleierig is.

In Augustus het die Dirkergesin Orania vir ‘n langnaweek besoek en die formele trek gebeur toe baie vinniger as wat hul beplan het.

Gwen, sy vrou, voeg by dat Jaco nie werklik van verandering hou nie, maar dat die trek die maklikste oorgang was wat hy nog gedoen het.
Aangesien geleenthede in Orania net oopgegaan het is Dirker Ingenieurswerke in Augustus 2022 geregistreer. Alhoewel hy oorweeg het om die Pretoriabesigheid aan die gang te hou en te pendel, moes hy gou agterkom dat dit nie finansieël sin maak nie. “My ma en oom Jimmy het altyd gesê ek het meer moed as verstand.”

Dirker Ingenieurswerke trek nou by vurkhyser nommer 79 en aangesien hy jare gelede planne gekry het om rame vir sy unieke vurkhysers te bou verskyn sy van op elkeen. Hy vertel dat die vloek van die bedryf is dat jou horisonne alewig moet skuif. “Ek sê vir my kinders: Ondervinding deur ondersoek.”

In Pretoria het hy ‘n hele span gehad wat saam met hom gewerk het. Hier moet Gwen ‘n paar mense se werk doen sover dit beplanning, netwerkbou en die bestel van toerusting betref.

Hy geniet die avontuur van ‘n uitdaging. Hy het ‘n selfaangedrewe versnipper vir ‘n eienaar in Tzaneen gebou. Hy geniet die tipe mense met wie hy hier in die Orania omgewing werk. “Dit is boere wat ‘n selfdoenmentaliteit het. Ons is elke dag dankbaar om hier te wees.”

In die drie maande wat dit neem om ‘n Dirker te bou, bly baie kleiner werk egter agterweë. Hy het nog baie drome wat vervaardiging aanbetref. “Een van die groot geskenke is dat Gwen saam met my in die kantoor is en die twee seuns, Duan (15) en John (13) is in- en uit by die werkswinkel.”

Jaco Dirker het as seuntjie met klinknaels en blikkies in pa en oupa se motorhuise gespeel. Vandag bou hy unieke Dirker vurkhysers.
Jaco Dirker het as seuntjie met klinknaels en blikkies in pa en oupa se motorhuise gespeel. Vandag bou hy unieke Dirker vurkhysers.
‘n Stomphanteerder word gebruik vir die laai en hantering van hout in die bosboubedryf.
‘n Stomphanteerder word gebruik vir die laai en hantering van hout in die bosboubedryf.
‘n Steenlaaier vir die hantering van stene wat in ‘n blokformasie gepak is. Kollegas span saam om moue in Orania op te rol. Laat ons werk!
‘n Steenlaaier vir die hantering van stene wat in ‘n blokformasie gepak is. Kollegas span saam om moue in Orania op te rol. Laat ons werk!
Die vurkhyser word aangewend vir die hantering van goedere op enige rowwe terrein.
Die vurkhyser word aangewend vir die hantering van goedere op enige rowwe terrein.
Multi-hyser is ‘n veeldoelige masjien. Dit is ‘n vurkhyser- en laaigraafkombinasie.
Multi-hyser is ‘n veeldoelige masjien. Dit is ‘n vurkhyser- en laaigraafkombinasie.
Post Views: 105