Op Dinsdag 5 November het ongeveer 10 000 Afrikaanssprekende individue by die Voortrekkermonument vir die protesoptog teen die omstrede Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwys, verenig.
Verskeie Oraniërs het die verrigtinge bygewoon en hul stem gaan dik maak teen dié voorgenome BELA-wet. Hanlie Pieters, bemarkingsbestuurder by Bo-Karoo Opleiding, het in haar pleidooi gesê: “Bo-Karoo Opleiding staan sterk vir die reg op vrye keuse van onderrig en opleiding in Afrikaans, omdat ons dit as ‘n hoeksteen van kultuurbehoud en identiteit beskou.”
Hanlie het verder genoem dat BKO daarin glo dat onderrig in Afrikaans, veral binne die unieke Afrikaner-kultuurkonteks, studente toerus om trots te wees op hulle identiteit. Sy beklemtoon dat BKO geleenthede vir groei en selfstandigheid, wat ferm gegrond is op die beginsels van Christelike geloof en die visie van ‘n selfonderhoudende, hoopvolle toekoms, wil skep. “Die BELA-wet bedreig ons vryheid om hierdie roeping voluit na te kom.”
Die Orania CVO-skool en Volkskool Orania se hoofde en onderwysers het nie die geleentheid laat verbygaan om ook hulle handtekeninge by te voeg en hul misnoeë met die memorandum teen die BELA-wetgewing te toon nie.
Verteenwoordigers van die Orania Beweging stel dit as “onaanvaarbaar vir die regering om van Afrikanerkinders ‘n politieke speelbal te maak. Die BELA wet is ‘n direkte en ondubbelsinnige aanval op Afrikaans en Afrikaners.”
Jaco Mulder, LP vir die Vryheidsfront Plus en voorsitter van die portefeuljekomitee oor landbou, landelike ontwikkeling en omgewingsake vertel dat dit lekker was om weer deel van ‘n groter groep te wees wat rondom ‘n gemeenskaplike saak verenig.
Dié protesoptog is deur Solidariteit en AfriForum georganiseer en sal voortaan onthou word as die grootste Afrikanersaamtrek sedert 1994.
Die minister van sport, kuns en kultuur, Gayton McKenzie het sy bystand verleen om toestemming vir optoggangers te kry wat hul kon toelaat om tot by Vryheidspark in Pretoria te stap en die memorandum namens die regering van nasionale eenheid (RNE) te oorhandig.
Hierdie is nie ʼn klein politieke geskil nie. Dit gaan oor die oorlewing van ʼn taal- en kultuurgemeenskap,” sê Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, Tientalle beheerliggame het hulle ouers vir die protesoptog gemobiliseer.
Meer as 41 organisasies het saam met duisende ander persone aan die vreedsame optog deelgeneem en sodoende opgestaan vir Afrikaans en die Afrikanerkultuur.
President Cyril Ramaphosa het reeds die wetsontwerp onderteken, met die uitsondering van klousule vier en vyf. Dié het hy met drie maande uitgestel sodat verdere gesprekke daaroor kan plaasvind. Die genoemde klousules handel oor skole se taalbeleid en die mag van skoolbeheerliggame.
Die Bela-wet se artikels 4 en 5 vat die finale sê oor die toelating- en taalbeleid by ʼn skool van die beheerliggaam en die ouer weg, en gee dit oor aan ʼn staatsamptenaar wat dan die mag het om dié beleide te verander.
Volg hierdie skakel om die memorandum te sien.