Kinderdrome… Petro van Wyk is ‘n baie goed opgeleide vlieënier wat pas aangestel is as die algemene bestuurder van die Springbok Vlieg- en Grondakademie in Orania.
As iemand twee jaar terug vir Petro van Wyk vertel het dat sy nou die Algemene Bestuurder van die Springbok Vlieg- en Grondakademie in Orania sou wees, sou sy jou met ongeloof aangekyk het.
Daardie ongeloof word deesdae met ‘n glimlag vol hoop en vooruitsig vervang. Petro wou na matriek net vlieg, maar volgens die toelatingstoets was haar profiel “nie gepas vir ‘n vlieënier nie”. Sy was uiters teleurgesteld, maar het besluit om haar gawes in te span en verwerf haar B Com Regte graad in 1993. Sy het haar kursus voluit aangepak en ook haar LLB-graad in 1996 verwerf. Haar loopbaan het by ‘n Benonipraktyk begin, waarna sy in Pretoria by ‘n praktyk aangesluit het. Sy is in 1998 as prokureur toegelaat.
Petro begin egter haar vliegopleiding amptelik in 1996 begin. Met ‘n streng pa wat die rieme styf getrek het trek sy terug huistoe, word verplig om haar opleiding te voltooi en verbied om muisneste te ontwikkel.
Sy het aanvanklik verkeerspatrolies met ‘n vastevlerkvliegtuig, die Cesna172 gevlieg en die verkeer op Jacaranda FM vir die metro uitgesaai.
In 2000 vlieg sy die Jetstream41 vir SA Airlink en op 1 Januarie 2003 sluit sy by SAL as mede-vlieënier aan. Petro vlieg vir ‘n tydperk van 18 jaar en 8 maande vir SAL. Sy het meer as 14 500 vliegure agter haar naam, wat haar ‘n gesoute vlieënier maak. Sy is in 2007 getroud, maar die huwelik het ongelukkig nie uitgewerk nie.
In November 2019 is SAL onder besigheidsbestuur geplaas en in Maart 2020 het die grendelstaat baie drome gestuit.
Haar ouers, Kaptein Flippie en Maryna Vermeulen, besluit toe om die paar weke op hul familieplaas, De Put, naby Petrusville deur te bring. Twee weke word uiteindelik sewe maande. “Die hele lugvaartindustrie het tot stilstand gekom en salarisse is vanaf Mei 2020 totaal gestaak,” vertel sy met groot oë.
Petro voer gedurende dié maande lang gesprekke met haar ouers, wat die bedryf goed ken, om haar opsies te oorweeg. Die feit dat daar sprake was dat SAL die bestaande 500 vlieëniers na 88 sou verminder het nie gehelp om haar vrese te besweer nie. “Ek is geheg aan familie, my land en kultuur en ek wou nie internasionale vliegwerk gaan soek nie,” sê Petro.
Op die vraag of dié beroep vir vroue meer uitdagend is vertel Petro dat dit meer intellektuele krag as fisiese krag verg, maar dat daar voortdurende druk is om beter te presteer. Die feit dat haar pa soveel jare by SAL betrokke was en omdat sy ‘n vrou is het dit die eise soveel meer gemaak. Sy sê dat sy haar hoed lig vir vroue met gesinne wat steeds hoogtes bereik. “Jy moet voortdurend op n baie hoë vlak presteer om volhoubaar aan internasionale standaarde te voldoen,” deel sy.
Sy het voor ‘n kruispad gestaan en neem toe die uitnodiging van haar ouers aan om by die familiebesigheid, die Springbok Group of Companies by die Randse Lughawe in Germiston, betrokke te raak. Die Springbok Group of Companies is in 2007 deur haar ouers gestig, wat onder andere vliegsafaris met historiese vliegtuie doen, onder die vaandel van Springbok Classic Air, vliegopleiding as Springbok Air Academy, asook onderhoud op vliegtuie as Springbok Aviation Services. Petro het meeste van die tyd nie lus gehad om op te staan nie en was in ‘n kantoor gekluister. Sy kon so bietjie met toeriste vlieg, maar nie genoeg om ‘n lewe te maak nie.
Volgens haar het sosiale media die besigheid se profiel op ‘n internasionale vlak aan die gang gehou omdat die bewaring van renosters, olifante, seeskilpaaie en die vernuwing van die Springbokhandelsmerk genadiglik soms die aandag getrek het. “Die sosiale media beeld wat geskep was, was meer opwindend as die realiteit,”sê Petro. Sy het gedink dat haar vliegloopbaan tot ‘n einde gekom het, maar die Here het ander planne met haar gehad.
Aangesien sy jare al raadgewend betrokke is by die ontwikkeling van Orania se vliegveld het sy in 2023 die moontlikheid van ‘n vliegskool begin ondersoek.
Sy is op 17 September 2022 met Danie van Wyk, ‘n plaaslike boer getroud, en woon nou tevrede in Orania. Danie is al verskeie jare by haar ouers se boerdery betrokke.
Sy het ‘n passie vir vlieg en besigheid en is entoesiasties om in die vliegbedryf in haar nuwe tuisdorp ‘n bydrae te lewer.
Op 11 November word Springbok Orania Vlieg- en Grondakademie amptelik geopen en die sosiale media blootstelling het reeds baie belangstelling van voornemende studente ontlok. Die akademie sal as substasie onder die Randfonteinse lughawe, Air Academy, funksioneer.
Daar is reeds 5 studente wat geregistreer het om voltyds of deeltydse opleiding te ondergaan. Verskeie werkende persone wat reeds hul PPL voltooi het, wil nou hul vliegure opbou en ‘n hele paar skoliere het aangedui dat hul vlieg as ‘n loopbaan oorweeg.
“Ek is opgewonde oor Springbok Orania omdat ek trots is op my taal, my christenskap en kultuur. Internasionale vlieg is Engels en om trots Afrikaans te leer vlieg is lekker!”
Die akademie se kantore is by Vluytjeskraal te vinde en vir enige navrae kan Petro by 083 307 6112 gekontak word.
Volgende maand leer ons die instrukteur, Johan de Lange, beter ken.
Kinderdrome… Petro van Wyk is ‘n baie goed opgeleide vlieënier wat pas aangestel is as die algemene bestuurder van die Springbok Vlieg- en Grondakademie in Orania.