In Orania sal Maandag 27 November 2023 altyd in die geskiedenisboeke opgeskryf staan as die opening van Snippie Snappie. Dit is die heerlike eetplek wat Tikkie Delport haar domein gemaak het en waar menige Oraniër versadig en verkwik kan uitstap. Daardie huppel in elke kliënt se stap is omdat hulle gasvrou vriendelik, hulpvaardig en ‘n wonderlike luisteraar is.
Tikkie of Tiks, soos baie haar noem, is ‘n jong 63 jaar oud en het Mosselbaai verruil vir Orania. Manlief Dawie is self ‘n handige man en, wanneer dit stil is by sy winkel, sit hy handjie by in Snippie Snappie se kombuis of agter die toonbank.
Haar kuierplek se interessante naam is deur een van haar kleinkinders voorgestel. Ouma en oupa het ‘n kompetisie vir die kleinkinders aangekondig en kleinseun, Ruan Barnard, toe 5 jaar oud, was R500-00 ryker toe Snippie Snappie as ‘n naam gekies is.
Dié dinamiese vrou onthou hoe haar asemnood en suurstoftekort in Mosselbaai byna haar lewe gekos het. Sy vertel: “Vandat ek in Orania is het ek nog nooit eers na ‘n asmapompie gegryp nie. Ek is gelukkig hier en tel my seëninge elke dag.”
Tikkie het veel meer as net lekker kos in haar winkel. Beskuit, koekies, ornamente, juwele, speserye, roomys, koek, slaai, koeldrank en lekkergoed kan ook daar gekoop word. Haar wye verskeidenheid aanbiedinge op die spyskaart bied lekker keuses vir enige kliënt.
Haar deure swaai al om 06:30 in die oggende oop en dit bied vroegoggend lafenis vir die honger of dors arbeiders of studente wat op pad is werk of Bo-Karoo Opleiding toe. Maandae tot Vrydae is hul tot 18:00 oop en Saterdae tot 14:00. Snippie Snappie is Sondae gesluit, want daar moet darem bietjie gerus word ook.
Sy was byna deur ‘n paar doemprofete ontmoedig wat haar gewaarsku het dat haar huidige winkelspasie nog “nooit” ‘n suksesvolle besigheid kon akkommodeer nie. Tikkie se positiwiteit, haar durf en slag met mense het die teendeel nou bewys. Madelein is ‘n vriendin van Mosselbaai sonder wie se hulp sy sekere mylpale nie sou kon bereik nie.
Tiks vertel van die oulikste mense wat sy al in haar kuierplek ontmoet het. Sy geniet dit om nuwe gesigte te sien en die Orania-idee oor haar toonbank te deel. “As jy eers in Orania gewoon het sal jy nêrens anders wil bly nie. Geen traliehekke laat jou vry voel en jy kan vrou-alleen rondstap en jou menswees uitleef!”
Snippie Snappie vier ‘n vrolike een jaar van besigheid! Op 23 November sal die vreugdevure al 08:00 begin brand om die verjaardag in hul kleurvolle tuin by Snippie Snappie te vier. Vanaf 10:00 sal die wors, pap en sous gereed wees om vir R35-00 per persoon saam te smul en kuier terwyl Eric Bornman musiek sal maak.