Koerania

Indien jy ‘n boekliefhebber is en graag ‘n rykdom van boeke, seldsame argiefmateriaal van ikoniese skrywers, unieke plateversamelings, foto’s en publikasies van legendariese digters en soveel meer wil ervaar moet jy die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) besoek.
Vandat jy deur Annelien Diedericks, Museumgeesteswetenskaplike, by die ingang verwelkom word ontaard dit in ‘n reuse ontdekkingstog. Foto’s, skrywes, boeke, uittreksels, bundels en briewe word uitgestal en jy moet behoorlik kophou om sin te maak van die indrukwekkende inligting wat uit haar borrel.
Annelien is onblusbaar! Haar kennis, liefde en toewyding vir waarmee sy daagliks besig bly, is merkwaardig. Daar is egter ‘n magdom sorteerwerk vir ‘n baie klein span personeel.
Wyno Simes, kurator van die museum, vertel dat hul binnekort slegs twee personeellede sal wees wat vir ‘n reuse taak verantwoordelik sal wees.
Op hul Facebookblad is daar onlangs genoem dat die 150ste bestaan van ’n hoeksteen vol stories in die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in die Bloem-fonteinse middestad in 2025 gevier word.
NALN is op die hoek van President Brand- en Charlotte Maxekestraat in Bloemfontein geleë. Hulle beywer hul vir die behoud en bevordering van die Afrikaanse woordkuns – letterkunde, musiek en toneel in holistiese verband.
‘n Kelder vol geheime wag op jou om ontdek te word waar meer as 8000 regte, egte papierboeke, hope langspeelplate en vele meer in Vriende van NALN se Boekemark in die Ketelkelder bewaar word. Maandae en Donderdae vanaf 09:00 tot 12:00 kan die Ketelkelder besoek word en kan items aangekoop word.
NALN is die aktiewe geheue van die Afrikaanse erfenis in letterkunde, musiek en toneel. asook die radio- en rolprentgeskiedenis.
Kontak hulle by vriendevannaln@gmail.com om ‘n skoolgroep, vriendekring, leesgroep of gesinsbesoek aan hulle te bring. Jy sal wegstap met ‘n kop vol pragtige herinneringe wat jou siel sal voed.

Post Views: 75