Dia van Staden – Redakteur
Sy is ter wille van oorlewing in 2019 na Sjina, en na 4 jaar en 10 maande daar het sy gedurende Junie en Julie weer in Suid-Afrika kom kuier. Haar huisie in Opaalstraat, wat sy in 2010 gekoop het, het haar met bekende boeke, meubels, persoonlike kosbaarhede en Orania se alombekende stof verwelkom.
Marna Swart is ‘n geregistreerde professionele natuurwetenskaplike (Pr.Sci.Nat), asook ‘n GIS-praktisyn (Pr.GISc.) wat haar B.Sc. (Wiskunde en Geografie) en B.Sc.Hons in Geografie aan die destydse Randse Afrikaanse Universiteit behaal het. Sy het navorsing langs die Oos- en Suidkaapse kusduine in Kusgebiedbestuur, ‘n onderafdeling van Omgewingsbestuur, vir haar M.Sc. aan die Universiteit van Port Elizabeth gedoen. Sy het in haar loopbaan verskeie kere ‘n Geografiese inligtingstelsel vir die Departement Omgewingsake ontwikkel waarmee kaarte op ‘n rekenaar dit moontlik maak om allerlei analises daarmee te kan doen.
Marna is meerendeels vir die vak Engels verantwoordelik wat sy tans in Quanzhou, in die Fujian Provinsie as deel van ‘n Kanadese program by ‘n Sjinese hoërskool, onderrig. Sy het juis in Junie daarheen verhuis om vroegtydig haar permitte te kry, sodat sy vir die eerste keer sedert 2019, ‘n besoek aan haar vaderland en haar mense kon bring.
Dié perfeksionis skroom nie vir ‘n uitdaging nie. Sy is gemaklik met haar eie geselsskap en het vir eers die aanleer van die taal opsy geskuif sodat sy op haar werk kan fokus. “Sjinees is baie moeilik, aangesien hulle van vier toonhoogtes gebruik maak. “Dit is my vyfde taal, maar beslis die moeilikste! Die foonvertaler maak egter kommunikasie byna soomloos. Ek sal wel een of ander tyd weer die volledige aanleer van die taal aandurf, al is dit net vir basiese dinge oor kos,” vertel Marna. Dit neem haar soms byna twee ure om uit te vind watter bestandele in kos gebruik word.
Dit gebeur gereeld dat haar leefritme uit werk, eet, soms slaap en busry bestaan. Noudat sy haar Sjinese bestuurslisensie het mag dit haar tot nog meer avonture lei. Sy het sedert 2023 ‘n paar keer ‘n kar gehuur om die Hainan-eiland die Guangdongkus, berge en ‘n dam te verken. Dit is plekke waar min uitlanders en selfs Sjinese al gekom het.
Tussen die uitwerk van lesse en opbou van leermateriaal spreek sy haar waardering vir die pragtige land uit en ontdek graag nuwe dele daarvan. “Ek fokus op die positiewe.”
Sekere goed bly vir haar eienaardige in dié land. Sy is allergies vir gluten, suiwel, eiers, heuning en soja en is bloot te onseker oor wat hul in hul kos gebruik en byvoeg. Al wat sy wel eet is klein vleisstukkies wat op sosatiestokkies bedien word. Groente soos sampioene en selfs blaarslaai word op stokkies geryg en gebraai. Sy het al gewaag om gebraaide paddas in Yiwu te eet en dit het soos hoender gesmaak. Sy gril vir hulle sop wat herinneringe van haar koshuis se skottelgoedwater oproep.
Marna is in Augustus 2019, net voor sy na Sjina verhuis het, met die groot K gediagnoseer. Sy was tot 2022 op ‘n uiters streng dieet van rou groente, slaai en vis. Sy geniet dit om haar eie kos te maak. “Jean is ‘n Suid-Afrikaner wat baie gewild is vir sy vleis wat jou minder laat huistoe verlang. Toe ek in Desember 2022 kankervry verklaar is het ek myself bederf met tjops, skilpadjies en boerewors uit sy slaghuis in Beijing en Shanghai,” noem sy. Hy kan by www.farmerbutcher.com gekontak word.
Sy komplimenteer wel die Sjinese se vars vrugtesap wat by talle stalletjies of winkeltjies te koop is. In Yiwu het sy ‘n paar keer saam met ‘n Turkse kollega by ‘n Turkse restaurant geëet en in Shenzhen by ‘n gawe Sjinese restaurant, waar die SA-braai aangebied was. Daar het sy lamtjops en skyfies geniet. “Wanneer ek ‘n McDonald’s of KFC sien eet ek skyfies daar.” Sy het altyd sout, mes, vurk en teelepel by haar wanneer sy reis, want dit is nie oral beskikbaar nie.
Haar belewenis van die grendelstaat in Sjina, waar sy vir 19 maande, 2021 tot 2023 gebly het, en tydens die erge inperkings van 2022 in Yiwu in die Zhejiang Provinsie agter ysterheinings, hekke, lemmetjiesdraad en rolle lemmetjiesdraad letterlik ingegrendel was. Daar het sy vir laerskool (Gr 1 tot 6) mondelinge Engels gegee en eintlik die kleintjies vreeslik geniet omdat hulle wil nog leer en nie omgee wat ander van hulle dink nie! Sy het al wiskunde, geografie en omgewingstudies ook aangebied. Soms is haar kontrak by ‘n skool slegs drie maande, maar die rondtrerkkery sorg dat sy telkens nuwe dele van die land ontdek.
Marna is al sedert 1986, toe sy ‘n student aan RAU was, ‘n ondersteuner van selfwerksaamheid en die volkstaatideaal. Sy het middel 2012 na Orania verhuis. Wanneer sy nie meer ‘n werkspermit in Sjina kan kry nie, sal sy terugkeer na Orania. “Ek moet nou spaar vir my oudag!”
‘n Groot uitdaging is dat sy nie werklik haar geloof in die publiek kan uitspreek nie. “Jy moet baie let op jou optrede, want dit word jou enigste getuienis vir kinders,” vertel Marna. Volgens haar kan sy slegs die musiek in ‘n Sjinese kerk verstaan. Die kultuurverskille soos die gespoeg, gesnork en winde opbrekery is iets van hul kultuur waaraan sy net eenvouding nie gewoond sal kan raak nie.
As Marna weer moes kies sou sy dieselfde beroepspaadjie kies, want sy het haar beroep geweldig geniet. Die tekort aan geleenthede en die feit dat mense nie haar veld werklik verstaan het nie het haar genoodsaak om ‘n ander uitweg te soek.
Sy wil jongmense aanmoedig om ‘n beroep te kies waarvan hulle sal hou. “Moet nie iets kies wat jou ouers wil hê jy moet doen nie, want dan sal jy altyd ongelukkig wees. Volg jou droom! Maak die beste van elke geleentheid! Wees jou beste self!”