Wanneer die 16 jarige Shenielle de Lange voor keuses geplaas word dan is koeldrank, popmusiek, dans, honde en sjokolade maar net ‘n paar van haar gunstelinge. Oor die volgorde van voorkeur sal daar nog besluit moet word.
Dié graad 11 meisie het pas ‘n debuut bundel vrygestel waarin sy oor verhoudings en die uitdagings van verhoudings dig. Shenielle vertel dat sy digkuns gekies het as genre omdat die skryf van ‘n boek ‘n té lang proses is. “Ek hou daarvan dat ek in ‘n gedig my gevoelens sterk kan uitbeeld sonder om langdradig te raak,” noem sy.
Shenielle lees graag Engelse boeke en daarom is haar breër woordeskat en sterker skoolvak ook Engels. Dié sielvolle meisie sit haar gevoelens in elke gedig op skrif. Haar eie verhoudings en dié van vriende en mense om haar het ‘n groot invloed op haar eie idees van verhoudings en daarom skryf sy graag daaroor.
Die ontwerp van die voorblad het sy ook self gedoen. Sy vertel dat die gesigte
die verhoudings tussen mense uitbeeld en dat die hart die emosies weerspieël.
Oor die versameling van gedigte sê sy dat daar nie een spesifieke tema is wat sy verkies om oor te skryf nie. ”Inspirasie kom gewoonlik van die snaakste plekke af”. Sy verduidelik dat sy nie gefokus bly op een tema nie, en daarom sal die geboorte van ‘n nuwe gedig haar dikwels onverhoeds vang. Sy erken egter dat mense se sê-goed en metafore haar geoeg kan prikkel om tot digwerk oor te gaan.
Shenielle se gunsteling gedig in die bundel is Fallen Angels. “Dit is een van die gedigte wat ek die minste tyd aan spandeer het, maar die meeste geniet het om te skryf.”
Haar gedigte sluit gereeld punte as leestekens na haar sinne of strofes in. “Net soos ‘n punt gebruik word om ‘n sin af te sluit, het ek punte in ‘n figuurlike vorm gebruik. Wanneer ek daardie sin afsluit sluit ek die hoofstuk in my lewe ook daarmee af.”
‘n Interessante toevoeging tot die bundel is die insluiting van dertig skakels na liedjies op Spotify. Alhoewel daar nie ‘n spesifieke gedig toegeken is aan ‘n spesifieke liedjie nie, is die speellys wel deurdag saamgestel. Shenielle het heelwat van dié musiek geluister terwyl sy aan die bundel geskryf het, sekere liedjies beeld haar persoonlikheid uit en sy wou ook genoeg van ‘n verskeidenheid insluit sodat dit in die meerderheid mense se smaak sou val. “Waar uiteenlopende musieksmake vermeng word skep dit ‘n geleentheid om ander mense beter te verstaan en nuwe verhoudinge te skep,” beaam sy.
Sy verstaan dat ‘n skrywer self moet lees om werklik skryfgereed te word. Sy lees graag fiksie, romanse en poësie. Twee van haar gunstelinge is Heart and bones deur Colleen Hoover en Diary of a Romantica deur Celia Martinez geskryf.
‘n Hele paar van die gedigte toon duidelik dat dié jong dame ‘n sterk verhouding met haar Skepper het. “Hy staan nie op om iets belangriker te gaan doen terwyl ek met Hom praat nie.” Sy vertel met oorgawe dat Hy haar eerste lief gehad het en dat Hy haar hart, siel en persoonlikheid ken. Sy voeg by dat sy nog altyd die Vader kon vertrou met haar geheime, en dat, wanneer sy nie kan praat nie, Hy reeds weet wat sy dink, voel of beleef. Shenielle leef haar geloof uit deur haar liefde vir mense, haar woorde, haar empatie met mense en haar skryfwerk.
Die titel van die bundel vat haar ondervindinge van 16 jaar saam. “Mense wat al die seer, die lesse, die verantwoordelikhede en die letsels ervaar het wat ek in my kort lewe beleef het, sal dadelik met my gedigte kan identifiseer.”
Sy gaan nie ophou skryf nie en sien daarna uit om vir nog kompetisies in te skryf en selfs oor ‘n paar maande nog ‘n bundel te publiseer.
Kry die bundel sommer direk by Shenielle teen slegs R50 per kopie. Kontak haar by 0826777379 om jou eie bundel op jou boekrak of bedkassie te hê.