Koerania

Hulle eerste en enigste adres in Orania was sedert hul trek nog altyd Saffierstraat 3, want dit is die huis wat Wessel vir Christa in April 1994 gewys het, en sy was dadelik ingenome daarmee. “Hierdie huis was vir ons bedoel,” sê Christa gou.
Die afstand van ‘n CVO-skool in Pretoria en bure wat verhuis het, plus bangmaak politiek het Wessel en Christa Badenhorst op 12 Julie 1994 na Orania laat verhuis. Hul buurman, oom Bernardus, het ‘n potjie sop vir die nuwe intrekkers aangedra.
Wessel het sy elektromeganiese ambag by Yskor voltooi en het by twee stadsrade gewerk. “In Orania kan jy nie spesialiseer nie. Jy moet, veral vroeër, iets van alles kan doen,” vertel hy.
Christa het Arbeidsterapie studeer en na hul eerste kind, Tinus, se geboorte, het hul besluit dat sy tuis sal bly vir hul kinders. Op 16 Julie 1996 begin sy hul kinders tuisskool en die laaste van die vier het in Mei 2009 gematrikuleer.
Hulle gesels met trots van hulle spruite. Tinus (40) is kerkorrelis en fiksheidsinstrukteur in George. “Hy het die nuusklingel, wat steeds gebruik word, vir Radio Orania gekomponeer.”
Dawie (39) is getroud met twee kinders en werk by Orion Hardeware in Orania. Marianne (36) is getroud en woon met haar drie kleingoed in Pretoria waar sy hulle tuisskool. Riaan (33) is die jongste en wel bekend aan Oraniërs as die talentvolle foto- en videograaf by die Orania Beweging.
Wessel en Christa vertel oor-en-weer ‘n pragtige klomp staaltjies wat jou terugneem na vervloë dae toe Orania nog nie planne vir stadword gehad het nie. Wessel was een van ‘n paar wat help bou het aan die eerste Oewergebou wat vandag André en Karin Coetzee se huis is. “Daar was niks behalwe ‘n stuk sementvloer waarop Waterwese se mense oujaar gedans het nie,” lig hy my in.
Daardie eerste klompie jare het harde werk, maar gesonde pret ingehou. “Wessel en Fanie Roos het die bome geplant wat tans nog in Saffierstraat pryk. Die huidige vliegveld was ‘n skietbaan. Met ds Hennie van Rooyen aan die stuur het die AP-kerk wyksetes en wyksbyeenkomste gehou. Oom Jan Brak het die melkplaas naby die Oewer gehad en sy bokmelkkaas was uit die boeke! Wat vandag as Bittereinder bekendstaan was vroeër Die Bakhuis, wat Ria Brak bedryf het. Esmé Boshoff het altyd Oewerpark se Druiwefees georganiseer en die Oraans Musiekgroep, wat ‘n CD opgeneem het, was ‘n treffer. Tienie Hout het elke nuwe inwoner vir tee genooi om met sy houtskeppings te spog,. Hy het elke winter deur die rivier geswem,” borrel die staaltjies uit.
‘n Ervaring wat hulle bybly is die man wat in 1995 met sy karavaan langs die huidige motorhawe gestaan het. Hy het volgens gerugte met sy sigaret in die hand aan die slaap geraak en die lekkasie van brandstofgas het ‘n massiewe ontploffing veroorsaak wat tot by hulle huis die aarde laat skud het.
“Ons wou graag Orania toe kom en behalwe vir die eerste somer wat 46 grade opgelewer het, was daar nie vreeslike ander aanpassings nie,” noem Christa. Die 36 vrugtebome en vrugbare groentetuin in hul erf, genoeg 1994 opgaarkos en gewoond aan selfwerksaamheid was vir hulle deel van God se voorsiening.
Christa vertel: “Ek het gedink hier sal nie karre of televisies wees nie, wat hier toe wel was. Snobisme was toe maar hier ook. Ek is ‘n Koningskind. Dit is al wat ek wil wees.”
“Orania is ‘n paradys vir kinders om in groot te word. Ons het ‘n sleepwa gehad waarop die kinders hulle kano kon laai en vir die naweek by die rivier saam met hulle maats kon kamp en visvang. Ons kon hulle met ‘n geruste hart alleen laat kamp,” noem hulle.
In 2022 het Christa haar kundigheid by CVO-skool begin toepas waar sy hul tans steeds bystaan met kinders se aansoeke vir toegewings tydens toetse en eksamens.
Hulle siening oor aftrede: “Jy moet glo dat jy in die tuig gaan sterf.” Hulle is oortuig dat ouer persone se kundigheid nuttig aangewend kan word, selfs as dit nie aan ‘n spesifieke organisasie gekoppel is nie. “Dit verg ondervinding om ‘n dorp te bou, maar ontwikkeling is nie noodwendig vooruitgang nie!
Die klerefabriek wat voorheen in Orania was, is een van die voorbeelde van ‘n vervaardigingsnywerheid wat heelwat werk verskaf het. “Ons moet vorms van vervaardiging hier kan laat vestig,” glo Wessel.
“Prof Carel Boshoff het gereeld daarop klem gelê dat Orania ‘n proefneming is, en dat niemand al hul eiers in een mandjie moet sit nie,” meld hulle. Die Badenhorst-egpaar oorweeg nie om te verhuis nie en hulle het goeie raad vir persone wat na Orania wil verhuis.
“Baie mense kom na Orania en vermoed dat hulle ‘n eerste van iets bring, maar dan is hulle onbewus daarvan dat hier al ‘n paar pogings vir soortgelyke besighede was. Iemand moenie ‘n pionier wil wees en planne vir hulself probeer uitbou nie. Pionierskap het ‘n baie kort raklewe. Kom bly vir ‘n jaar hier, beweeg tussen die mense en beleef die seisoene. Indien iemand ‘n besigheid wil begin moet jy seker wees dat jou vennote dieselfde doelwitte het,” is van hulle kosbare wenke.
Hulle is trots op die Chris Jooste gedenkbankie wat voor hulle huis opgerig is. “Hy was ‘n baie wyse en sterk man gewees. Hy was byna 100 jaar oud toe hy ‘n Spaanse riet met wortel en tak verwyder het. Niemand wat kon werk soos hy nie.”
Dié twee pioniers se dryfkrag het nog lank nie tot ruste gekom nie. “’n Ambag is soos ‘n kunswerk. Jy maak iets wat ‘n ander ou nie kan maak nie. ‘n Ambagsman in Orania is egter ‘n nuttelose ding. Omstandighede dwing jou om ‘n nutsman te wees, sonder ‘n spesialisveld. Hier is egter baie kundigheid wat by iets soos ‘n Ambagskool oorgedra kan word,” eindig Wessel af.

Post Views: 126