Koerania

Resensie: Erfstad - ruimte en plek vir die vierde Afrikaner – Wikus Buys

deur – ds. Ronald Bain

Dis baie betekenisvol dat die boek Erfstad op Woensdag 4 September in Orania bekendgestel is. In hierdie insiggewende kyk op die Afrikaner se ontwikkeling van sy ruimtelike kultuur, bied dr Wikus Buys ‘n belangrike bydrae deur daarop te wys dat die Afrikaner haar eie stad nodig het om weer vry te kan word. Ruimtelike kultuur is die wyse waarop ‘n gemeenskap oor die aard van ruimte dink en hulle plek binne daardie ruimte vind en vul.
Erfstad wys met dieptenavorsing oor ons wordingsgeskiedenis daarop dat die Afrikaner se ruimtelike kultuur, werklik uniek is. In kort: ons het as volk in ons ruimtelike kultuur die stad grootliks misgeloop en ons het reguit oorgegaan na die stigting van state toe. Vandaar die Afrikaner se liefde vir die plaas en aversie vir die stad.
Verder wys Erfstad daarop dat die Afrikaner se tradisionele ruimtelike kultuur ‘n inherente teenstrydigheid met hom saamdra, naamlik dat die Afrikaner groter ruimtes begeer as wat hy kan bewerk, bewoon of bewaak. Daarom het die Afrikaner ander volke op ‘n voogdyskaplike manier ingespan om hierdie wanbalans te probeer herstel. Dit het natuurlik katastrofiese gevolge vir ons vryheid gehad.
Die enigste wyse waarop hierdie wanbalans herstel kan word is deurdat die Afrikaner ‘n stad bou, met ‘n omliggende streek waarin die Afrikaner se kulturele arbeid tot wasdom kan kom. Die Afrikaner wat egter inherent skepties staan teenoor stede as plekke van vryheid sal in diepte moet herbesin en selfondersoek doen oor sy vryheidstrewe.
Verder lê dr Buys die klem daarop dat ons volk ‘n roeping tot vryheid het. Ons vryheid is dus ‘n opdrag van die Here. In die huidige bestel is die Afrikaner ‘n blote staatsburger van ‘n nasiestaat en nie meer ‘n burger van ‘n gemeenskap met ‘n eie land nie. Aangesien die Afrikaner ingesweer is onder die sosiale kontrak van Suid-Afrika – soos vergestalt in die konstitusie – is dit bykans onmoontlik vir Afrikaners om in hierdie bestel weer vry te kan wees om die Here as ‘n volk te dien. Die Afrikaner sou slegs kon reken op bepaalde kulturele ruimtes wat die meerderheidsregering toelaat of weer wegvat.
Erfstad bepleit ‘n algehele herbesinning van ons onderworpenheid aan die Suid-Afrikaanse grondwet en bepleit die daarstelling van ‘n nuwe Afrikanerhandves wat juis die Suid-Afrikaanse sosiale kontak verwerp en weer met die verbondsgedagte werk. Dit beteken dat ‘n volk eerstens verbonde aan God moet bestaan en daarom ook in verbondenheid met mekaar voor sy aangesig kan bestaan. Daardeur kan nuwe bande gesmee word wat op wedersydse respek geskoei is. Hierdie verbondenheid aan God en mekaar is histories deurgaans in elke handves of grondwet van die Voortrekkers en Boere geopenbaar .
Hierdie Afrikaner, wat ons roeping tot republikeinse vryheid juis so verstaan, noem dr Buys die vierde Afrikaner of die Westelike Republikein. Hy skryf op bladsy 402 van sy boek: “Die vierde Afrikaner kan ‘n nuwe Afrikaner-beskawing bedink, anderkant die bouvalle van die Suid-Afrikanisme. Die vierde Afrikaner kan weer tot ‘n nuwe gemeenskapstigting oorgaan, waar deur eedswering aktiewe burgerskap verwoord word as deelnemende borgskap van die verbonde gemeenskap.” Dis ‘n mondvol, met diep en aangrypende implikasies.
Die boek se vertrekpunt is dus nie ‘n wetenskaplike analise daarvan of ‘n stadstaat as republiek in die Afrikaner se kraal val nie. Die vertrekpunt is of Christus ons volk roep om Hom weer in vryheid te dien, en of Hy ons vryheid begeer.
Daarom is Erfstad noodsaaklike leesstof vir diegene wat erns maak met ons volk se roeping tot vryheid, maar wat ook bereid is om eerlik na ons volk se blindekolle te kyk, wat ons ons vryheid gekos het. Terwyl ons met hoë waardering op die breë skouers van ons voorgeslagte staan, sal ‘n boek soos Erfstad ons help om nie weer dieselfde foute te begaan as wat voorheen in hierdie wye landstreek begaan is nie.
Ten slotte, die gehoorsaming van ons roeping tot volksvryheid loop volgens dr Buys deur ‘n erfstad heen. ‘n Stad wat net die Here vir ons in sy genade kan laat erf en ‘n stad wat ons as erfenis vir ons nageslagte op hierdie kontinent moet nalaat, sodat hulle die Here in vryheid kan dien.

Post Views: 122