Koerania

Reinette de Waal (69) is bekend met die groot K. Sy het in 2007 die nuus gekry dat sy dikdermkanker onderlede het. Die kwaadaardige kanker is met ‘n operasie en verwydering van die meerderheid van haar kolon gestuit.
Sy is tans in die proses om die aggressiewe Fase 3 borskanker, wat op 18 Augustus 2024 by haar gediagnoseer is, op ‘n natuurlike manier te beveg. Dit was egter nie die terugtrek van haar tepels wat haar by ‘n dokter laat beland het nie. Haar hart het uit ritme begin klop en daardeur is sy gedwing om mediese hulp te kry. Die dokter wat haar in Kimberley ondersoek en behandel het, het die knop in haar bors opgemerk en aanbeveel dat sy daarna laat kyk.
“Jy ken jou eie liggaam. Ek het die knop al ‘n geruime tyd voel groter word, maar dit was nie regtig seer nie. Dit het soms gevoel of naalde in jou bors insteek, maar dit was nie genoeg van ‘n waarskuwing vir my nie,” vertel Reinette.
Dié besige vrou, ma en ouma vertel hoe vol haar lewe is en dat sy nie werklik tyd vir haarself gemaak het nie. Die sonar se uitslag was vir haar opnuut ‘n skok wat haar vergangklikheid in vet rooi letters uitgelig het.
Reinette was alleen by die dokter toe die diagnose uitgespreek is. “Dit is nie ‘n grap as jy alleen is en so ‘n diagnose moet aanhoor nie,” vertel sy met groot oë. Dit was asof my gedagtes vir ‘n ruk tot stilstand geruk het. Eers het ek gewonder of ek reg gehoor het, maar daarna het ek, met die Here se genade, besef dat siekte deel van die lewe vorm,” noem sy ewe dapper.
Sy redeneer dat siekte nie ‘n straf is wat die Here oor mense uitspreek nie, want Hy loop saam met jou daardeur. “Hy los jou nie alleen hierin nie.” Sy kon in haar eie woorde vir Carolus, haar man, verduidelik wat die diagnose en prognose van die fase 3 borskanker was.
Die biopsie is gedoen, sodat sy ook haar familie kon kalmeer. Sy het die onkoloog gaan sien maar die kwansuise nuwe opsies van chemobehandeling wat hulle haar gebied het sou, volgens haar, die dokter ryk maak en haar lewenskwaliteit verminder. Die newe-effek van die voorgestelde behandeling sou haar hart benadeel. “Wie in sy regte verstand sal dit aan jouself wil doen!” roep sy uit.
“Ek het jare gelede reeds besluit dat ek, indien ek voor die keuse sou kom, geen bestraling of chemoterapiebehandeling sou gebruik nie, en dat hierdie nie ‘n doodsvonnis hoef te wees nie.”
Sy vertel dat haar man sommer gou gesê het dat hy geweet het iets is fout. Haar kinders was hartseer en ontstels en hulle wou weet wat sy beplan om te doen. “Ek het mooi vir almal verduidelik hoekom ek die natuurlike metode van genesing kies, en hulle aanvaar dit 100%. Ander familie voel die wetenskap daar is vir ’n rede, maar my keuse is finaal.”  
Die leefstylaanpassings sluit ‘n dieet van vars vrugte en groente, vleis, eiers, kaas en gemengde bessies, wat nie maklik gekombaar is nie, in. Ons eet sover moontlik organies-verboude hoë protein, kom genoeg in son, gebruik suurstofdruppels, Vit B17 en voeg perskepitte by die dieet. “Mens moet kyk wat jy in jou mond sit, daarom het ons onlangs vir ons eie gebruik ‘n groentetonnel opgesit.” Die grootste kopskuif vir haar was om nie meer koffie te drink nie.
Reinette beveel vroue aan om hul borste gereeld te ondersoek en nie ‘n waarskuwing te ignoreer nie. Vroue dink gereeld dat dit net ‘n melkklier is wat geswel is, maar sy voel dat dit die moeite werd is om seker te maa ken vir ‘n sonar te gaan. Sy is glad nie ten gunste van mammogram nie, as gevolg van die blootstelling aan bestraling.
Sy maak al vir jare gebruik van verskeie frekwensieskandeerders- en behandelings en vind dat dit uiters effektief is. Dit is bio-terugvoerstelsels wat stres in organe kan optel en kan behandel om sodoende die stres te verminder.
Op ‘n persoonlike vlak moedig sy mense aan om die hulp van ‘n ondersteuningsbasis te aanvaar. Verder por sy mense ten sterkste aan om hul verskille met mense uit te sorteer,  meer te oefen en ‘n gesonde dieet te volg sodat hulle stresvry kan leef.  “Ek het die Here opnuut deel van my daaglikse roetine gemaak, want ek wil ‘n boodskapper vir God wees,” sê Reinette.
Sy beleef tans beterskap en noem dat die knop in haar bors krimp. “Ek het geen pyn nie en die skanderings toon dat daar tans geen kanker in my liggaam teenwoordig is nie. As dit Sy wil is sal ek gesond word. Indien nie, dan is ek rustig daaroor, want ek gaan dan na Hom toe.”

Reinette de Waal waardeer deesdae haar stiltetyd wanneer sy tyd by God se voete deurbring, rustig sit en lees, ‘n mooi stukkie musiek luister of ‘n entjie te gaan stap. Sy vermy negatiwiteit en maak haarself ‘n prioriteit.
Reinette de Waal waardeer deesdae haar stiltetyd wanneer sy tyd by God se voete deurbring, rustig sit en lees, ‘n mooi stukkie musiek luister of ‘n entjie te gaan stap. Sy vermy negatiwiteit en maak haarself ‘n prioriteit.
Post Views: 87