Koerania

Pieter stap doelgerig saam

Die Red ‘n plaas Camino het op 14 April in Williston begin en op 22 April in Verneukpan klaargemaak. Dit het beteken dat 120 stappers die 166 km binne 7 dae te voet sou moes aflê. Negentig vroue en dertig mans het die staptog begin, maar nie almal kon byvoorbeeld die “ongerieflike” toilet- en badgeriewe, wind en ver stap hanteer nie en het ongelukkig nie die staptog voltooi nie.

 

Pieter van der Walt is ‘n boer in murg en been en wou nie die geleentheid laat verbygaan om met hierdie waardige projek sy deel te doen nie. “Ek het Erns Grundling met sy televisieprogram, Elders, dopgehou en dit het my lus gemaak om ook so iets te ervaar. Nou wil ek nie ophou nie,” beskryf Pieter ewe bedees.

 

Hy vertel dat die meerderheid bagasie genadiglik op ‘n trok gelaai word en dat elke stapper slegs hul water en kos vir die dag saamdra. Hy vertel met ‘n glimlag dat daar mense van diep in hulle sewentigs die staptog voltooi het.

 

Dankbare boere het langs die roete, wanneer die stappers dit die minste verwag, hulle met koue waatlemoen, roomys, energiedrankies of suikersoet pannekoek bederf. Dit is maar een van die maniere waarop boere hulle dankbaarheid vir die Red ‘n plaas stappers getoon het.

 

Moet nie dink dat die stappers afgeskeep is met lekkergoed nie. In die aande het die smokkeltrokkie allerhande bederfies gebring wat hulle kon koop om te geniet. Elke vyf kilometer van die tog is ‘n waterpunt en ablusiegeriewe beskikbaar gemaak.

 

Ontbyt en middagetes was elkeen se eie verantwoordelikheid. Pieter het twee trommels gepak met klere, noodsaaklike noodmiddels, graankosse en melk vir ontbyt en biltong, droë wors, droë vrugte en sweeties vir middagetes saamgeneem. Smaaklike aandetes is by hul kampplekke bedien.

 

“Jy stap op jou eie wanneer die staptog begin. Jy het tyd om oor die lewe te besin. Dit word ‘n binnereis,” sê hy op ‘n ernstige noot. Die daaglikse 20 tot 27 km se geloop beteken dat jy verskillende mense langs die pad ontmoet en Pieter vertel dat jy naderhand soveel mense leer ken dat daar selfs genoeg tyd is om na mekaar se stories te luister.

 

“Alleen stap kry jou kop skoon, maar myne het nie skoon gekom nie,” skerts hy. Oor die redes waarom elkeen die staptog aangedurf het was daar uiteenlopende reaksies. “Sommiges het ‘n hart vir die boere en ander is stukkende mense wat ‘n doel vir hul eie lewens soek.” Pieter voel dat dit wel moontlik is om heel te word aangesien jy tyd het om te dink aan wat moet verander. “Van die mense kan self herstel, maar die gesels met ‘n vreemdeling en die deel van jou hartseer, help individue om beter te voel,” deel hy.
In die aande slaap elkeen in sy eie tentjie wat jy self moet opslaan en moreoggend dou voor dag moet afslaan. “Weens my persoonllikheid het ek maar altyd mense om my,” spot Pieter. Hy het maar handjie bygesit as daar iemand was wat hulp benodig het met blase op die voete, skoene wat pla of selfs ‘n ligte oomblik nodig gehad het.

 

(word vervolg… volgende maand vertel Koerania meer van Pieter se Tankwa Camino).

 

Post Views: 89