Na twee kuiers het die le Grange egpaar geweet dat hulle in Orania wil woon, werk en bou en het hulle in 1993 hulle lewe in Bronkhorstspruit opgepak. Hulle Waterwesehuis, waarin hulle vandag nog woon, het toe R58 000 gekos.
Dit was na ‘n seminaar wat deur AVSTIG (Afrikanervryheidstigting) aangebied is dat Koos ook ‘n besoek van dr Carel Boshoff by sy speelgoedfabriek ontvang het. “Hy het my vir Orania kom werf,” vertel Koos. Vir Koos was dit die enigste groep wat ‘n werkbare oplossing gebied het en die Noord-Kaap se populasie was toe al van so aard dat die Afrikaner ‘n meerderheid in die gebied kon vorm.
Koos en Marinda het hul woonwa gehaak en Orania besoek om te sien waaroor die bohaai gaan. Hulle vertel dat die Orania-idee idillies was en dat die gedagte van vrywees tot hulle gespreek het. Selfs die duwweltjies wat die hele woonwapark vol was en die swembad wat vol modderwater was kon hulle nie afsit nie.
Dié twee het nie vreeslike verwagtinge gekoester nie, maar die realiteite van hulle nuwe woonplek het hul tog verras. “Ons het materialisme gegroet en gevoel dat ons nie meer nodig het om met die bure te kompeteer nie. “Hier was nie Jones’s in Orania nie. Solank jou kar kon ry, al was dit ‘n ouer voertuig, was dit gaaf,” deel hulle.
Marinda het die “selfonderhoudend” baie ernstig opgeneem en ‘n melkbok aangeskaf sodat sy hulle eie bokmelk, roomys en maaskaas kon maak. “Ek het eers later agtergekom dat jy ‘n bok droë lusern moet voer sodat die melk nie so vreemd moet smaak nie,” lag sy.
Hulle vertel van toeka se bedrywe soos ‘n melkplaas en kaasmaker wat met hulle aankoms in Orania verkrygbaar was. “Ek het op my fiets met die mandjie gespring elke tweede dag alles gaan koop wat ek nodig gehad het,” sê Marinda. Hulle dink met verlange terug na die dae toe alles baie rustig en sonder ‘n gejaag verloop het.
Koos en Marinda onthou baie goed dat daar in daardie dae nie ‘n slaghuis was nie en dat jy maar rond gebel het vir ‘n boer wat moontlik iets slag sodat jy op dié manier vleis vir die pot kon bekom. Naderhand het Koos ‘n tweedehandse saag gekoop sodat hy self sy skaapvleis kon opsny.
Marinda vertel dat die hele gemeenskap se vroue by die kerk sou vergader om al die dorings te probeer uitskoffel, en dit was vir besoekende joernaliste ‘n vreemde gebeurtenis. Kinders het in daardie jare in ander inwoners se tuine vir sakgeld gaan werk, wat natuurlik die selfwerksaamheid-gedagte van ‘n jong ouderdom af vasgelê het.
Die antwoord op die vraag van hoe hulle oorleef het, sou niemand verwag nie. Koos het panfluite gemaak, vanweë sy vernuf met hout, en Marinda, as kunstenaar, het volstruiseierdoppe geverf sodat hulle dit maandeliks by die Bloemfonteinse mark kon verkoop. Hulle bibber sommer weer as hulle onthou hoe koud dit was en dat jy nogal moes wikkel om ‘n uitstalruimte daar te kry.
1 Thessalonissense 4:11 was die teksvers wat hul as rigtingwyser aangewend het.
Marinda verf haar pad oop
Marinda, ‘n arbeidsterapeut, begin toe die Jubel en Juig kleuterskool by hulle Kleingelukhuis na hulle skaars aangeland het. Sy het die skool vir byna tien jaar bedryf.
Vir nog tien jaar daarna het sy Afrikaans as vak by die Orania CVO-skool vir Gr4 tot Gr7 leerders gegee. Dit was ‘n waagstuk, maar sy was baie gelukkig toe sy haar kunsloopbaan voltyds kon beoefen.
In Orania hang haar kunswerke reeds in ‘n verskeidenheid primêre instellings se ontvangsareas, raadsale en kantore. “Nou is ek met die kleinkinders besig, want hulle het my nodig,” vertel sy, terwyl ‘n kleinseun homself opvoedkundig besighou onder ouma se wakende oog.
Koos se passiewe planne
Koos het moedeloos geraak nadat daar tweekeer by sy fabriek in Bronkhorstspruit ingebreek is en waardevolle masjienerie en kragopwekkers gesteel is. Hy is dankbaar dat God hul gelei het om te trek. Van 1993 tot 1995 het Koos trommels vol speelgoed namens die RGN vanaf Orania vervaardig, verpak en na kliënte versend. Koos se plan om panfluite te begin maak is uit nood gebore, maar hy kon dit maklik alleen vervaardig. “Alles wat my hand kon vind om te doen het ek gedoen,” vertel die vindingryke man.
Hy het kombuiskaste begin bou toe daar ‘n behoefte was. Die mark het egter versadig geraak, maar sy planne het nog nooit opgeraak nie. Koos het selfs vir ‘n tydperk as klankingenieur vir funksies en kunstenaars opgetree.
Koos moes op ‘n stadium terwille van sy seuns sy houtwerkmasjienerie vir meer meganiese masjienerie verruil, aangesien sy seuns nie houtwerk as ‘n loopbaan oorweeg het nie.
Ampie Venter, ‘n vriend van Koos, het drie patente besit. Koos het gedurende die afgelope twintig jaar gewerk aan die ontwikkeling en vervaardiging van die praktiese patente. Die eerste een was ‘n brandyster waarmee die boere hulle beeste sonder ‘n vreeslike beslommernis kan brandmerk. Dit verg ‘n 12volt battery wat ‘n boer maklik agterop sy bakkie saamry. “Nou is daar geen vuur, vlamme of gasbottels wat leeg raak benodig nie. Selfs die groen persone het daarvan gehou omdat die proses nie ‘n dier immobiliseer nie.” Ampie het die patente intussen verkoop.
Onthoringysters is die volgende patent wat Koos ontwikkel het, sodat beeste se horings nie verder kan groei nie. Hierdie werk ook met ‘n 12 volt battery. ‘n Derde patent was ‘n unieke skaapstertknipper wat geen bloeding veroorsaak nie.
Koos het ‘n kop vir beplanning en het later besef dat ‘n passiewe inkomste met die verhuring van drie ander eiendomme en die verhuring van ‘n werkswinkel ‘n gemakliker aftrede kan meebring.
Die kinders
Toe die le Grange’s in Orania arriveer was Jacobus in standers 6, Cornelis was standerd 4, sussie Maryna in standerd 1 en Rudolf, die jongste, was 4 jaar oud.
Jacobus het meganiese ingenieurswese studeer en daarna op argitektuur besluit. Hy woon tans in Brackenfell. Cornelis, ‘n swaardiens meganiese passer, het vir 15 jaar by ‘n ysterertsmyn in Australië gewerk, maar keer eersdaags terug na Suid-Afrika. Maryna is getroud met Bennie Hoffmann en hulle woon in Orania. Sy bedryf ‘n juwelierswinkel. Rudolf Regmaak was hulle jongste se bynaam, aangesien sy hande vir niks verkeerd staan nie. Hy bestuur en bedryf nou ‘n boer se 6 000 hektaar saaiplaas in Australië. “Ons kinders is dankbaar dat hulle hier hul kinderlewe kon deurbring. Hulle het geleer om te werk. Hulle kon in vryheid swem en langs die rivier kamp. Hulle pluk vandag die vrugte van daardie grootwordtyd.”
“Ons maak nie van ‘n ander volk se mense gebruik om ons vuil werk te doen nie. Ons is nie verhewe bo enige werk nie.”
Hulle is in Orania om ‘n volkstaat te help bou terwyl die gemeenskap met mekaar “snorre skuur”, soos prof Carel Boshoff altyd daarna verwys het, wanneer daar gekommunikeer word.