Op Saterdag 21 September is die Orasolbattery suksesvol aangeskakel en daarmee het Orania sy beurtkragvryheid bekom.
Dr John Strydom, voorsitter van Orasol, het in sy toespraak genoem dat vryheid vir hom beteken dat iemand vry is om hul eie besluite te neem en dit dan uit te voer. Hy het verwys na prof Carel Boshoff en dr Chris Jooste, twee stigterslede van Orania, wat hul visie vir die toekoms beplan het, maar ook uitgevoer het.
Mauritz Meyer, Francois Joubert en Riaan Jacobs is by name bedank vir hulle aandeel in die daarstel van die battery.
Riaan Jacobs, projekbestuurder van Orasol het genoem dat die projek, met al die uitdagings, uiteindelik 2 jaar geneem het om te voltooi. Hy het sy dankbaarheid teenoor die baie groepe en individue uitgespreek wat by die proses betrokke was. Hy het die uitleg van die terrein verduidelik en vertel dat die battery uit meer as vyfduisend selle bestaan wat vloeistofverkoel word.
Lida Strydom, die burgemeester, het gepraat oor die toewyding, volhoubaarheid en innovasie wat die battery vir Orania en sy mense verteenwoordig. “Energie is lewe. Dit bring potensiaal wat wag om ontgin te word,” het sy gesels.
Pieter Loots, verteenwoordiger van een van die grondentiteite, het namens landbouers sy dank uitgespreek oor die projekspan se vermoë om saam te kon staan vir voltooiing van dié unieke projek.