Die huidige oponthoud vir die aanskakel van die Orasolbattery word veroorsaak deur die span van ‘n verskaffer wat verkies om hul eie koppeling van kabels te kom doen.
Ingenieursdienste se elektriese span het al die Sungrow-toerusting tot dusver gekoppel en terminasies op hoogspanningskabels is gedoen. Mauritz Meyer vertel dat sodra die toerusting korrek geplaas en gemonteer is, die elektriese span, nadat hul dié week opdrag gekry het, ook dié koppelings sal behartig. Die grootste oponthoud is deur die verskaffers van die skakeltuig veroorsaak. Die skakeltuig is in November 2023 bestel en moes April 2024 gelewer word. Dit is toe eers in Junie afgelaai.
Volgens Riaan Jacobs, projekbestuurder van Orasol, sal Sungrow se ingenieur van Sjina af die finale stappe kom uitvoer nadat die beheerstelsel vir die kommunikasiestelsel gekoppel is. Hy noem verder: Die hardeware wat allerhande komponente vir die voltooiing van die Orasolbattery insluit, is 99% in plek. Die verskaffer se ingenieur wat die finale toetsing van die skakeltuig moet doen behoort op 29 en 30 Julie in Orania te wees. Die netwerk se veselkoppelpunte van die battery en sonaanlegte se koppeling is feitlik voltooi. Die beheerstelsel word tans in Kimberley in ‘n kabinet gemonteer om by die res van die stelsel te laat inskakel. Sungrow se span was in die buiteland en behoort binnekort hulle werk te kom voltooi voordat ‘n ingenieur die beheerstelsel en kommunikasiestelsel uiteindelik sal programmeer en implementeer.”