Koerania

Dié fiksheidsuitdaging is internasionaal bekend, maar het nou sy buiging in Suid-Afrika kom maak. Hyrox se eerste uitdaging is op 21 September in Kaapstad aangebied.

Vier jong dames van Orania het hulself drie maande gegee om voorbereidings te tref vir dié uitmergelende uitdaging waar elke sessie teen tyd gemeet word. Daar het 25 spanne aan die vroue-aflos deelgeneem en dié dapper dames behaal toe ‘n pragtige tweede plek.

Carmen Jacobs vertel hoe sy dié uitdaging al lank op Instagram volg en dat dit haar inisiatief was dat hul registreer. Eers sou sy en Jané Ebersohn as ‘n duo inskryf, maar toe besluit hulle om vir die groepsafdeling te registreer. Annamarie van der Merwe en Zincke Straszacker word toe bearbei om die span volledig te maak.

Uit hulle opgewonde vertelling oor die ondervinding kan daar afgelei word dat elkeen sy eie sterk punte verstaan en dit na dese nog beter verstaan. Carmen sê dat dit ‘n kopding is, want “mens is geneig om op te gee as iets moeilik raak, maar hier moes jy jouself dryf om dit ook vir die span te doen.”

Elke spanlid moes twee oefeninge doen en hulle het spesifiek so voorberei. “Daar is redelik baie voorskrifte waaraan elke oefening moet voldoen en jy wil nie die een wees wat die span se punte deur foute verminder nie,” babbel hulle.  

Elke uitdaging word voorafgegaan deur ‘n 1km hardloop, dus was fiksheid deeglik gemeet. Carmen het die eerste hardloopsessie met 1km se SkiErgs opgevolg. Annamarie was volgende met die sleestoot waar sy 102kg vir 50m moes stoot.

Zincke, die jongste lid van die span, het die 50m sleetrek behartig. Annamarie vertel dat die burpees wat sy oor 80m moes voltooi ‘n enorme uitdaging was.

Daarna was Carmen aan die beurt met die 1km roei, Jané met 200m se Farmer’s Carry waar twee ketelbels vir 200m gedra word. Zincke se dra van ‘n gewigtige sandsak op jou nek terwyl jy lunges oor 100m doen het hulle senuwees geknaag. Jané moes daarna die laaste item, 100 keer ‘n medisynebal teen ‘n muur en terug gooi (wall balls).

Jane vertel dat, alhoewel die Kaapstadse Konvensiesentrum baie groot is, elke spasie vir die betrokke uitdagings fyn uitgewerk is. Zincke sê dat die voorbereiding in die oop ruimtes van Orania dit makliker laat voel het as wat dit uiteindelik was. “Dit het met tye gevoel asof ek net nie kon klaarkry met die uitdaging nie. Die span se aanmoediging van die kant af het jou die hele tyd gemotiveer.”

Die slee van 100kg wat gestoot moes word was vir Annamarie intimiderend, maar uiteindelik haar beste item. Hulle is in retrospek kwaad vir hulself oor die 7 minute wat hulle gebruik het om van een stasie na ‘n volgende oor te skakel. Hulle het die agt stasies in  1.21.31 voltooi en die wenners het binne 1.13.45 gewen.

Op 1 Maart 2025 word die volgende Hyrox SA in Johannesburg aangebied en dié vier sal wil gaan deelneem indien daar finansiële hulp sal wees vir hulle inskrywingsgelde, drag, brandstof, verblyf en voedsame etes.

“Jou span is so sterk soos die swakste skakel. Ons was daar vir mekaar,” vertel die energieke vier.

Post Views: 98