Koerania

Orania Skouspel spog met tuistalent

Die talentvolle Oraniërs het kragte saamgespan en vir ‘n lieflike aand gesorg.
Almal sien reeds uit na Orania Skouspel 2024

Die eerste Orania Skouspel is onlangs in die gemeenskapsaal aangebied. Verskeie uiters talentvolle kunstenaars het hul stemme dik gemaak om tussen ander talentvolle individue die aandag van die gehoor te geniet.

Verskeie lede van die gehoor het kommentaar gelewer dat dié geleentheid Orania so ‘n trappie “hoër” plaas. Ander lede van die gehoor, wat self talentvol is, maar skrikkerig daarvoor was om hulself bloot te stel, het reeds aangedui dat hul die talente en instrumente gaan afstof vir 2024 se oudisies.

 

 

Dia van Staden, die Okkasie Hasie, en Eric Bornman, eienaar van Oop-Mikrofoon, het die skouspel georganiseer en was aangenaam verras met die kwaliteit van persone wat oudisies bygewoon het, en sien baie uit na Skouspel 2024. “Ek dink my superkrag is om ander persone se talente na vore te bring en dit vlerke te gee. Dit maak my opgewonde om iemand te sien groei!” vertel Dia.

 

Eric is self ‘n talentvolle musikant en het twee nommers op sy saksofoon gelewer. “Ek is dankbaar vir die geleentheid om my liefde vir musiek te kan uitleef en vir ander die geleentheid te skep om dieselfde te doen,” praat Eric.

 

 

Die verskeidenheid van sang, instrumente, ballet, lintdans, voordrag en humor het mekaar afgewissel om seker te maak dat die gehoor nie verveeld raak nie. Die instrumentale optredes het gewissel van klavier, orrel, dwarsfluit, mondfluitjie, klawerbord, panfluit, saksofoon en dromme.

 

 

Pragtige sang is aangehoor en dit is soms met jong dansers van die Uysie Kirsten Balletskool en Michelle Jacobs se Ritmiese Gimnastiekskool ingekleur. Hugo Grotius het sy nar-mannewales tydig aangewend terwyl hy saam met Cobus Kirsten die rekwisiete op die verhoog soos benodig geskuif het.

 

 

Vir die volledige program en name van al die deelnemers, besoek Okkasie Hasie se Facebookblad. Stuur gerus ook daar ‘n boodskap indien jy vir volgende jaar se oudisies genooi wil word.

Die nar… Hugo Grotius het die gehoor tydens die oorgang van een item na die volgende vermaak.
Talentvolle dames… Christi de Klerk, Leoni de Klerk, Sumari de Wet en Chantel Strauss het pragtige sangitems gelewer.
Post Views: 181