Koerania

Orania se watersuiweringsnetwerk gee hoop

Die Orania Aandeleblok se direksie het die nuwe watersuiweringsnetwerk dié week besoek en was aangenaam verras met die nuutste tegnologie wat hier toegepas is.

André van Heerden, die Hoof van Ingenieursdienste by die Orania Dorpsraad het op Woensdag 29 November met trots die watersuiweringsaanleg se werking aan die direksie van die Orania Aandeleblok (OAB) verduidelik.

André vertel dat die siviele werk en opkoppeling van pype ongeveer twee maande se werk was en die onkostes daaraan verbonde was byna R400 000-00. “Die bou en aanmekaar sit van die tenk, wat in vier stukke by ons gearriveer het, was ‘n drie maande proses en het R1.4mil gekos,” sê dié ingenieur. Volgens hom het die hele Infrastruktuurafdeling ingespring om die toring te bou tot waar hy nou staan.

Kobus Pieterse en Christo Theron van Cubic Water in Nelspruit het blykbaar reeds vier jaar gelede met ‘n soortgelyke mobiele eenheid die dorp besoek. Alhoewel André dadelik beindruk was, het sy afdeling ‘n prioriteitslys gehad wat eers aandag moes geniet.

Hy verduidelik: “Die rioolnetwerk was lank ‘n krisis en inwoners het dalk al vergeet dat ons in Diamantlaan ‘n reuse rioolprobleem gehad het. Baie geld is in die bou en ontwikkeling van die oksidasiedamme en toevoerlyne in en dit het byna 4 jaar geneem om dit op te los, maar hier staan ons tenk ook nou.”

Die feit dat die nuwe stelsel se tegnologie daartoe bydra dat mannekrag na ander terreine verplaas kan word, aangesien dié stelsel nie so arbeidinstensief is nie, help baie. Die chemikaliedosering is meer akkuraat en geskied outomaties. “Met die ou stelsel moes personeel die afgelope paar jaar kleppe gaan oop- en toedraai wat dit arbeidintensief gemaak het. 

Nou kan hul op ‘n selfoon dophou of alles in orde is en bly.” Moontlike foute kan aan die toevoerkant ontstaan indien die rouwater waaruit suiwerwater moet kom ‘n vlakfout toon. ‘n Alarm waarsku die personeellid van ‘n watervlakprobleem of indien die doseringspompe sou afskakel. Beurtkrag is tans die grootste sondebok indien enige probleme ondervind sou word.

My besoek aan die watersuiweringswerke het my verbaas. Die nuwe tegnologie wat ons personeel toepas om varswatervoorsiening aan die dorp op ‘n baie bekostige manier te lewer maak my trots. Daar word vooruit beplan aangesien Orania geweldig uitbrei. Ons is weer op die voorpunt van tegnologiese vordering!
Jannie Roux
direksielid van die Orania Aandeleblok se direksie

Hy vertel dat die volgende stappe pomplyne insluit wat sal meebring dat meer suiwer water by die waternetwerk sal uitkom. Die aanbring van toevoerlyne na die woongebiede daarna, word ook as belangrik geag. “Dit gaan seker nog vier jaar neem,” noem André.
André sien uit na die Orasolbattery wat binnekort in Orania geinstalleer sal word, want stabiele krag dra by tot die kwaliteit en kapasiteit van die waternetwerk se toevoer. “Outomatisering is goedkoper en vinniger om noodsaaklike dienste te lewer,” voeg hy by.

Hy kyk met genoegdoening terug op die sukses van die geboude oksidasiedamme wat hy voorsien, met soortgelyk meganisasie behoort te werk. “Dit is ‘n uitdaging om prosesse weer aan die gang te kry nadat riool te lank gestaan het.” André en sy afdeling se ingenieurs is kliphard aan die plannemaak en doen navorsing om die rioolstelstel ook geoutomatiseer te kry.

André vertel dat Oraniërs vir teerpaaie smeek, maar aangesien dit ‘n baie duur oefening is bly hy dankbaar dat mens darem nog op grondpaaie kan ry. Hy beskryf dat elkeen ‘n verantwoordelikheid teenoor die Skepping het. “Ons gebruik hom, want ons kannie daarsonder nie. As ons die wêreld net kan opvoed om die aarde op te pas en nie te verniel nie,” sê hy.

Sy droom is dat Orania ‘n wêreldklas infrastruktuur sal bou wat veilige en beskikbare water, ordentlike paaie om op te ry en ‘n kwaliteit rioolstelsel insluit. Hy sien die verskil wat herwinning ook aan die omgewing maak en sal daardie sisteme ook wil uitbou. “Ons moet ons voetspoor kleiner maak,” deel André.

Ek is net weer beïndruk met die vooraf beplanning vir, en die uitvoering van hierdie watersuiweringprojek. Ons kan rustig slaap, want ons weet die onderhoud aan ons stelsels is uitstekend. Wat ‘n voorreg om so ‘n bekwame, kundige en toegewyde tegniese span te hê!
Lida Strydom
Voorsitter van die Orania Aandeleblok se direksie
André van Heerde, hoof van Ingenieursdienste wys hoe skoon die water is wat deur die netwerk kom.
Fanie Bredenhann geniet die skoon water van die suiwerwaterdam.
Post Views: 119