Koerania

Riaan Jacobs, die Voorsitter van die Orania Verteenwoordigende Raad (OVR), stel voor dat Oraniërs pragmaties moet wees oor die Nasionale en Provinsiale verkiesing en dat, indien hulle wil deelneem daaraan, hulle ‘n party moet soek wat selfbeskikking as deel van hulle beleid ondersteun. “Jou beginsels en geloofsoortuigings moet nie in die verkiesingsproses verkrag word nie,” noem hy. 

Riaan deel sy sentiment dat daar globaal die skeidslyn tussen lig en duisternis al hoe meer verskerp. 

Hy is beslis wanneer hy sê dat kulture nie die een oor die ander moet heers nie en dit sal beteken dat die oorheerste kultuur sy identiteit sal verloor. 

“Oraniers sal weereens nie afgeraai word om aan die Nasionale en Provinsiale verkiesing deel te neem nie, maar as iemand die Orania-idee ondersteun, sal hy nie terugverlang na die verlede nie,” gesels hy. Hy herinner Oraniërs daaraan dat deelname aan ‘n verkiesing elke individu onderwerp aan die uitslag daarvan en dat jy jouself aan daardie gesag moet onderwerp. 

Riaan verduidelik dat die OVR hul met Orania en die progressie wat reeds hier plaasvind sal besig hou, aangesien daar geen rede is om op die res van Suid-Afrika te fokus nie. Dit is egter belangrik om bewus te wees hoe ons omgewing ons moontlik kan beinvloed. “Ons bou ons selfbeskking in Orania op grond, fisiese, sosiale, ekonomiese, politieke, juridiese, kulturele en christelike vlak. Dit is die enigste manier om uiteindelik ‘n Volkstaat te kry, want geen stembus gaan dit vir ons gee nie,” beaam hy. 

Hy vertel dat die OVR primêr twee take het: 

1. Interne samehang vir die vier grondentiteite, wat verskillende behoeftes en karakters het om binne die Orania-idee te belyn. Beginsels soos eie arbeid, verblyfreg, regspraak en die nuut gestigte grondgebruiktribunaal moet vir almal belangrik genoeg wees sodat dit gekoester word.

2. Eksterne skakeling is van uiterste belang.  Riaan sê dat die oorlegsone gevestig is en Orania se staatkundige bevoegdhede nou formeel herken word. Dié stap, buiten dat ons volgens die Afbakeningsraad binne Thembelithle se grense val, het ons nou formeel onder hulle gesag uitbeweeg. Daar vind heelwat skakeling met ander kultuurgroepe, joernaliste en afvaardigings van kultuurorganisasies en ander lande plaas.  In hierdie opsig is daar baie nou samewerking met die Orania Beweging en die Dorpsraad. Die OVR streef ook na goeie verhoudings met buurmunisipaliteite, die distriksmunisipaliteit en regering, beide Provinsiaal en Nasionaal.

 Aangesien die OVR minimum invloed het en wil hê, en die meerderheid van die besluitneminng in die grondentiteite gesetel is, neem die OVR leiding met die belyning van Oraniërs.  Daar word tans baie energie bestee aan die skryf van ‘n grondwet vir die OVR en Orania. 

Op die vraag of hy negatiewe aanvalle op Orania tydens die aanloop tot die verkiesing verwag, sê Riaan dat daar tradisioneel altyd iets gebeur om Orania in die kollig te plaas. “Daar is altyd een of ander aanvallende media berig, of Orania word versoek om te kyk of daar iets kontroversieel geskep kan word. Ons is anders en ons volg nie die status quo nie. Op elke vlak van regering en funksionering ontwikkel ons alternatiewe prosesse en instellings soos met ons veiligheid, regspraak, elektrisiteit en algemene dienslewering. In die res van SA stort die kernfaktore ineen, maar hier skep ons alternatiewe daarvoor,” sê Riaan trots.  

Die OVR het tot stand gekom op grond van die stryd teen die beoogde inlywing van Orania by die Thembelihle Munisipaliteit. Na ‘n hofstryd het Orania sy eie Verteenwoordigende Raad demokraties verkies. In die begin het Orania hoofsaaklik uit die aandeleblokskema bestaan met die Dorspraad as owerheid wat deur aandeelhouers verkies word. Namate meer grond bygekoop en bewoon is deur Oraniërs en nuwe grondentiteite ontstaan het, het die behoefte dat die OVR sy rol as owerheid moet inneem al groter geword. 

Die OVR word elke vyf jaar tergelykertyd met die landswye munisipale verkiesing deur alle inwoners van Orania bo 18 jaar verkies, en is daarmee wyd verteenwoordigend en demokraties.  Kandidate staan as individue en nie volgens ‘n partlys nie.  Die OVR is in ‘n sekere sin ‘n Orania-parlement wat breë rigting gee maar nie met uitvoering op grondvlak en met dag-tot-dag besluite gemoeid is nie. Die OVR bestaan uit twaalf lede met ‘n voorsitter, onder voorsitter, en ‘n verdere twee lede wat die dagbestuur vorm. Die huidige OVR is in 2021 verkies. 

As Riaan ‘n opinie oor die opkomende verkiesing moet waag dink hy dat die ANC swakker gaan vaar en meer radikaal sal word.  Hy waarsku dat Afrikaners nie té optimisties oor opposisie koalisies moet raak nie en eerder bekommerd moet wees oor met wie die ANC ‘n koaliese kan sluit. 

Sy mening is dat Orania na die verkiesing, net soos tydens die grendelstaatperiode, weer ‘n oplewing gaan toon in verblyfrefgaansoeke, beleggers en algemene belangstelling in die Orania-idee wat werk. 

Orania OVR
Die Orania Verteenwoordigende Raad is in 2022 aangewys. Die raad bestaan uit die volgende lede: Voor: Jan Beyers, Carel Boshoff, Riaan Jacobs, Lida Strydom. Agter: Renier Botha, Hanri Maritz, Hans van Staden, Frans de Klerk, John Strydom, Christiaan van Zyl (Voorsitter van die Orania Inwonersvereniging verantwoordelik vir die reël van die verkiesing) , Albert van Zyl, Willie Nel en Phillip Nothnagel.
Post Views: 164