Helena Erasmus en haar swemstudent, Stefan Erasmus.
Stefan Erasmus het gedurende Maart aan die Suid-Afrikaanse Nasionale Junior Swemkampioenskap (SANJS) deelgeneem en sy persoonlike beste tye verbeter.
Stefan het twee finale gehaal en onderskeidelik ‘n 8ste en 9de plek in die 100m en 50m borsslag, sy gunsteling slag, behaal. Sy swemtye het tydens die byeenkoms so verbeter:
Hy verduidelik dat die tegniese uitdagings van borsslag hom dwing om gedurig te verbeter. Adam Peaty, ‘n Engelse borsslagswemmer is op sy lys van rolmodelle aangesien Adam gesien word as die beste swemmer van sy era. Stefan se eertydse swemafrigter het aangedui dat hy ‘n natuurlike aanleg vir die sport toon.
Stefan beskryf sy roetine en die aanloop totdat sy hande die water tref. “Jy warm saam met die ander swemmers op tot jy uitgeroep word vir jou item. Dit is nie ‘n lang wag nie, maar jy gaan vele kere na of jou kappie, bril en swembroek reg getrek is vir die stryd. As ek op die blok klim voel dit of almal net vir my kyk en my brein skakel alles uit. Ek probeer dink aan wat my afrigter gesê het, maar die natuur en wat jy geleer en geoefen het skop outomaties in,” vertel hy.
Hy wil graag werk om volgende jaar ‘n plek op die podium te kry, want dit lei tot moontlike internasionale en ander nasionale deelname.
Alhoewel swem vir Stefan ‘n prioriteit is geniet hy sy tennislesse, fietsry en rugby. Hy het juis aan die Bo-Karoo Vasbyt se Ligtrapuitdaging deelgeneem, maar meen dat die rugby hom met sy fiksheid help. ‘n Biokinetikus het onlangs deel geword van sy roetine sodat die regte swemspiere verder ontwikkel kan word.
Die Sandhaaie se afrigter, Helena Erasmus, is tans besig om die Vlak 1 afrigtingskursus te voltooi en met die vooruitsigte van ‘n verhitte swembad by die CVO-skool sal daar geleenthede wees om regdeur die jaar te oefen. Daar is reeds ‘n terrein beskikbaar gemaak en die fondse hiervoor moet nou verkry word.
Wanneer ‘n swemmer kompeterend wil deelneem doen Helena ‘n evaluasie van tegniese vaardighede en kyk na die regstel van styl en fiksheid. Swem is eintlik ‘n baie tegniese sport met heelwat reëls wat vir elke styl, draai en duikaksie nagekom moet word.
“Dit is belangrik dat kinders hulle eie liggame leer ken wat mettertyd by die fiksheidsvlak wat die sport vereis, aanpas.
Die alleentyd wat swem skep is goed vir enige mens, ook kinders, se psige,” vertel afrigter Helena.
Helena was nooit self lief vir swem nie, maar deelname aan die Midmar-myl het haar geleer dat daar maniere is om die gevoel van verdrinking te oorwin. Dit het vinnig vir Helena duidelik geword dat sy die rol van ma en afrigter duidelik sal moet skei om haar seun suksesvol af te rig. “Ek probeer om nie te skree terwyl hy swem nie, want hy hoor tog nie. Ek leer konstant meer van afrigting soos wat ek dit prakties toepas,” noem sy.
Oor ‘n swemmer se voorbereiding vir ‘n kompetisie verduidelik Helena die proses van periodisering. ‘n Swemmer begin om kapasiteit te ontwikkel, daar word aan fiksheid gewerk, kragoefening gedoen, asook spoed en tegniekafronding gebeur. Sy vertel dat swemmers teen die piek van ‘n seisoen ongeveer 4km per sessie swem.
Ter voorbereiding van ‘n spesifieke kompetisie begin die volume afneem, intensiteit verhoog en die swemstyl geniet primêre aandag. Die wegspring en draai word baie herhaal om die byna outomatiese aksie te beinvloed.
Besoek die Orania Sandhaaie Swemklub se FaceBook-blad vir meer besonderhede.