As ‘n besoeker in Orania arriveer is daar ʼn paar plekke wat ‘n ruspose die moeite werd maak. Dié plekke is geskiedenis- en kultuurbakens van die Afrikaner en vorm deel van ons dorp se karakter.
Die belangrikheid van openbare kuns
Openbare kuns dien twee primêre funksies: Dit bied `n hulpmiddel vir ekonomiese herlewing en skep gemeenskapsidentiteit. Dit verhoog die gemeenskap se lewenskwaliteit deur vir sy burgers ‘n medium te bied om hulle identiteit uit te druk. Dit verteenwoordig `n gevoel van gemeenskapstrots en dit bring mense bymekaar.
Die Orania monumentkoppie is ʼn simboliese terrein om te besoek. Daar is borsbeelde van bekende Afrikanerfigure in ʼn halfmaan geposisioneer en hulle almal se oë is op die klein reus in die middel van die halfmaan gerig. Die klein reus rol sy mou op, omdat hy weet daar is baie werk wat self gedoen moet word.
Die klein reus is Orania se simbool vir selfwerksaamheid en eie arbeid en daarmee saam beteken sy naam dat hy klein is maar dat die werk wat hy verrig en sy idee vir vryheid reusagtig is. Die klein reus kyk uit oor Orania in die toekoms, maar hy is gegrond in sy voorouers en die verlede. Dié beeld is deur Kaalvoet opgerig.