Koerania

scoop

Orania se naam soos heilige graal ontdek

Ek voel dit is basiese respek om die scoop vir Orania te gee. Ek voel dat die nuus op Orania moet breek en van daar af kan uitbrei.

Professor Jannie Rossouw

Professor Jannie Rossouw is verbonde aan die Wits Besigheidsskool, maar het onlangs bande met Orania vir navorsingsdoeleindes opgeneem. Hy het gevind dat die voorgeskiedenis van Orania nie opgeteken is nie. “In hierdie ondersoek na die historiese “wortels” van Orania voor 1991, is weinig rekords beskikbaar,” vertel hy.

Selfs die rekords van die Departement van Waterwese (DvW), wat aanvanklik die dorp ontwikkel het, is ontoereikend. Die ontstaan van Orania se naam het egter sy verbeelding aangegryp en hy het onlangs uiters interessante bevindinge gemaak.

Prof Jannie besef dat hy ‘n heilige graal ontdek het, omdat hy indringende navorsing oor Orania as naam vir die dorp eerstehands ondersoek en gevind het. Verskeie argiefrekords bevat Orania en Vluytjeskraal se name, maar het geen detail ingesluit nie.

Toe die naam vir die Taalburo voorgele is vir oorweging was hul onseker oor die naam Orania, want volgens hulle was die dorp 25 myl van die Oranjerivier af. Dit was uiteindelik Poskantoorrekords wat die vername inligting bevat en verskaf het. Uitgebreide korrespondensie het na die bevindinge gevolg. Die tussenin korrespondensie sal binnekort in ‘n boek vervat word.

Ses voorstelle. Een naam. Dit klink dalk eenvoudig, maar die proses het tot redelike konflik gelei. Hy skryf ook: “Orania was een van sewe dorpe wat die Departement van Waterwese in daardie tydperk opgerig het vir huisvesting vir personeel wat op die Oranjerivier en verwante waterskemas gewerk het. Die ander dorpe is Gariep Dam (voorheen Oranjekrag), Midshaft, Oviston, Teebus, Uitkeer en Vanderkloof.”
Hier volg uittreksels uit sy artikel soos vir die Suid-Afrikaanse tydskrif vir

Kultuurgeskiedenis saamgestel is:

Orania as Waterwesedorp

Die Departement van Waterwese het in 1963 gedeelte 8 van die plaas Vluytjeskraal 149 aangekoop met die doel om ’n dorp aan te lê. Hierdie dorp was aanvanklik bekend as die Vluytjeskraal-dorpsgebied.

Die aard van Orania as Waterwesedorp

Die Vluytjeskraal-dorpsgebied en ook Orania, nadat die naam aanvaar is, was onder sommige inwoners as “Die Kamp” bekend. Volgens Visagie was die hele dorp omhein, het dit aan die DvW behoort het en is dit sodanig bestuur. Hy dui aan dat die woonbuurt wat vandag as Orania-oos bekend is, destyds Groot Kamp genoem is. Orania-wes is destyds Klein Kamp genoem, omdat dit kleiner was.

Orania het ’n maandelikse koerant, Orania Nuus, gehad wat Visagie en sy vrou uitgegee het en wat nuusgebeure op die dorp gedek het. Die koerant is maandeliks by die DvW se kantoor op Orania geliaseer vir rekordhouding, maar hierdie rekords het nie op Orania behoue gebly nie. Dit is onduidelik of hierdie historiese rekords nog bestaan.

Benoeming van Orania
Mnr Joe Coetzee se ouers het op Orania gewoon en hy was vanaf 1966 daar in die laerskool. Coetzee verduidelik dat die blanke inwoners in die omgang die naam Vluytjeskraal of Die Kamp vir die dorp gebruik het, terwyl swart inwoners na die dorp as Orika verwys het.

Visagie, wat vir die Vluytjeskraal-dorpsgebied se opmeetwerk verantwoordelik was, het die naam Orika en die gebruik van “Die Kamp” verduidelik en het deurgaans verwys na die dorp as ’n “kamp”, want die gesag van die DvW het aldaar gegeld en die dorp was afgekamp met toegangshekke.

Volgens Visagie was Orika die aanvanklike voorstel vir die naam, maar dit is deur die Suid-Afrikaanse Poskantoor verwerp omdat daar destyds ’n ander Suid-Afrikaanse Poskantoor was (klaarblyklik Erika) waarvan die naam volgens die poskantoor té naby aan Orika was.

’n Dokumentebundel by die Nasionale Argief in Pretoria werp lig op die keuse van Orania as naam vir die dorp toe. Die Suid-Afrikaanse poskantoor se afdelingskontroleur vir die Noord-Kaap (ene mnr Rautenbach) het op 23 Maart 1966 in ’n brief aan die posmeester op Hopetown navraag gedoen oor die wenslikheid van die vestiging van ’n posagentskap op die nuwe dorp wat die DvW op gedeelte 8 van Vluytjeskraal 149 ontwikkel het. Hierdie brief vra ’n mening oor sodanige vestiging op Orika, maar dit is duidelik dat Orika op ’n latere tydstip in die brief uitgekrap en met Orania vervang is. Die wysiging is ongedateer.

Die dokumentebundel toon dat die waarnemende assistent-posmeester-generaal, poswese, die afdelingskontroleur, Noord-Kaap, op 15 Julie 1966 ingelig het dat “(n)ie een van die drie voorgestelde name … (vir die dorp) … is aanneemlik nie aangesien hulle met bestaande plekname verwar kan word.” Naamverwarring van poskantore was destyds ’n probleem, omdat Suid-Afrika eers op 8 Oktober 1973 poskodes vir straatadresse in stede/dorpe en vir poskantore in gebruik geneem het.
Verdere korrespondensie in dieselfde dokumentebundel toon ’n gebrek aan alternatiewe name nadat die drie vorige voorstelle onaanvaarbaar bevind is.

Gevolglik het mnr H.W Lansdell, die hoofingeneieur op die dorp, eers op 21 Oktober 1966 in ’n brief aan die posmeester op Hopetown vyf verdere alternatiewe name vir oorweging voorgelê. Die volgende name is aan hom verstrek: Kanalia, Orania, Orika, Wateraar en Waterbron.” Lansdell het egter aangedui dat Orika steeds die voorkeurnaam was. Die brief verskaf nie enige motivering vir hierdie name nie. In die dokumentebundel is voltooide (maar ongedateerde) U.E. 270-vorms wat dieselfde motivering vir die name Kanalia, Wateraar en Waterbron gee, naamlik “die voorgestelde poskantoor is geleë by die kampdorp van die Departement Waterwese, waarvandaan die bou van die kanaalstelsel vanaf die Vanderkloofdam beheer word. Die benaming is kunsmatig ontwerp.”

In dieselfde dokumentebundel is ’n memorandum gedateer 18 Januarie 1967 wat deur die assistent-posmeester-generaal, personeel en algemeen (naam onbekend) onderteken is, wat aantoon dat Orania as naam vir die dorp onder verdere oorweging was. Na oorweging is dit egter met ’n versoek vir verdere verduideliking vir die oorsprong van die naam terugverwys, onder meer omdat die naam nie Afrikaans is nie en kunsmatig geskep is.

’n Posagentskap met die naam Orania is op 18 Julie 1967 op die dorp geopen. ’n Ander dokumentebundel by die Nasionale Argief in Pretoria bevat ’n memorandum gedateer 28 Julie 1967 waarin die (destydse) afdelingskontroleur Noord-Kaapland (naam onbekend) motiveer dat die posagentskap op Orania tot ’n poskantoor opgegradeer word. Die posagentskap is vanaf 1 November 1967 tot ’n poskantoortak opgegradeer. In dieselfde dokumentebundel is ’n memorandum gedateer 18 Januarie 1967 wat deur die assistent-posmeester-generaal, personeel en algemeen (naam onbekend) onderteken is, wat aantoon dat Orania as naam vir die dorp onder verdere oorweging was. Na oorweging is dit egter met ’n versoek vir verdere verduideliking vir die oorsprong van die naam terugverwys, onder meer omdat die naam nie Afrikaans is nie en kunsmatig geskep is. In ’n handgeskrewe nota in dieselfde dokumentebundel wat datumstempels van 26 en 28 Januarie 1967 en 1 Februarie 1967 (van verskillende kantore) toon, word verklaar dat: “(d)ie naaste punt van die Kampdorp aan die Oranjerivier is ½ myl en die verste punt is 1¾ myl. Die ‘Oran’ verwys na die rivier en die ‘ia’ is kunsmatig byvoeg om die naam strelend of welluidend te laat klink”.

Voorts meld dieselfde nota dat “(t)he name ‘Orania’ has been formulated presumably on a similar basis as that applicable to the name of the ‘Transvalia’ office in Pretoria.” Orania as naam vir die dorp is na hierdie motivering goedgekeur.

Professor Rossouw noem in sy akademiese navorsingsmanuskrif: “Hierdie historiese navorsing toon duidelik die belangrike rol van die argivale bewaring van dokumentasie vir toekomstige geskiedskrywing.”

Bron: Jannie Rossouw
Suid-Afrikaanse tydskrif vir
Kultuurgeskiedenis Junie 2024 Volume
South African Journal of Cultural History (journals.co.za)

Professor Jannie Rossouw het wye navorsing gedoen om uiteindelik op die korrekte inligting af te kom wat verduidelik hoe Orania se naam ontstaan het. Oraniërs sal voorts dié kosbare inligting aan ander media en besoekers kan oordra.
Professor Jannie Rossouw het wye navorsing gedoen om uiteindelik op die korrekte inligting af te kom wat verduidelik hoe Orania se naam ontstaan het. Oraniërs sal voorts dié kosbare inligting aan ander media en besoekers kan oordra.
Redakteur Dia van Staden, het professor Jannie Rossouw in Pretoria ontmoet om sy artikel te bespreek.
Redakteur Dia van Staden, het professor Jannie Rossouw in Pretoria ontmoet om sy artikel te bespreek.
Post Views: 156