Koerania

As Oraniërs hande vat vir ‘n saak wat hulle naby aan die hart lê, keer niks hulle nie en volg daar ALTYD ‘n heerlike kuiergeleentheid!

Dit was ook nie anders met die Orania gemeenskapsmodeparade waar oud en jonk, mans en dames hulle staal (of miskien hulle passies op die verhoog) kom wys het nie.

En ons gemeenskapsaal was gepak met mense wie se harte en hande oop was vir ons diere, en kon ‘n mens die entoesiasme voel.

Die musiek was meesterlik aangepas by dit wat op die verhoog aangegaan het, die tafels was feestelik getooi, en almal het omtrent gesmul aan heerlike eetgoed wat elke gasvrou voorsien het.

Dia van Staden, die brein agter die briljante plan om die dorp se eie talent en klerewinkels ten toon te stel, was soos gewoonlik op haar pos met hope spitsvondigheid en aanmoediging.

Die feit dat elkeen van die modelle hulle tyd hiervoor gratis aangebied het, ten bate van Orania Dieresorg, en weke lank ge-oefen het om elke treë perfek te gee, is merkwaardig. Pappas wat die kleintjies by die huis opgepas het, aandetes voorberei het, en dan na badtyd vir mamma kom oplaai het, was maar een deel daarvan. So ook die manne wat reguit van die werk af sy deel kom bydra het vir die sukses van die aand. Die modelle was die sterre van die aand!

Natuurlik kan ‘n mens nie vir ‘n oomblik ons meelewende gehoor uit die prentjie laat nie!

Julle onbaatsigtigheid om die aand by te woon met heerlike entoesiasme, die tafels se smaakvolle dekor, lieflike eet en drinkgoed, is vanselfsprekend iets waarvoor almal so dankbaar is.

Maar, die oop hande om skenkings te maak gedurende die aand, is van ongelooflike waarde. Dat selfs die Kleretrommel se klere daar en dan reg van die modelle se lywe af gekoop is, wys elkeen se heerlike deelname en oop hande vir ons Dieresorg.

Die gehoor het die modelle wat Bo-Karoo Eiendomme, Orion Hardeware, Die Wafelhuis, die Weltevreden dansakademie, Volkskool en ons eie gemeenskapsbiblioteek verteenwoordig het baie geniet.

Die aand sou glad nie kon realiseer sonder die ruimhartigheid van ons klerewinkels wat ons modelle geklee het nie. Kleinreus se niggie en neef, Cia-Mari Boetiek, OraniaUitrusters en selfs Die Kleretrommel se klere het op die loopplank geskitter. Eden & Co het van hulle pragtige juwele beskikbaar gestel sodat die modelle in die formele rondte daarmee kon spog.

‘n Ruim skenking kon aan Orania Dieresorg gemaak word, wat hulle met groot dankbaarheid sal aanwend waar dit nodig is.

Post Views: 106