Koerania

Paul Vogel, Uitvoerende Hoof van die Bo-Karoo Opleidingsentrum gesels met opgewondenheid oor die eerste Opedag wat dié instelling op 15 Junie aangebied het.
Die ongeveer 200 mense wat die dag bygewoon het, was 51 voornemende studente. Ouers, boeties en sussies en ander familielede het die volle getal opgemaak. “Die jonger geslag wat Orania kom beleef is natuurlik vir ons ook deel van die doel, want dit is tog toekomstige studente,” beklemtoon Paul.
Volgens die statistieke van die dag was die elektriese ambag en boerderybestuur (landbou) die twee gewildste opsies vir studente. Daar is baie vrae gevra nadat daar soveel as moontlik inligting in elke studielokaal of werkstasie aan ouers en hul kinders gegee is.
“ Besoekende ouers en voornemende studente was uit die veld geslaan. Orania en Bo-Karoo Opleiding het hulle verwagtinge vêr oortref. Ons vriendelikheid, netheid, professionaliteit en kultuur, ons manier van doen, het hulle verras,” vertel Paul met ‘n trotse glimlag.
“Ons het vir voornemende studente in een oggend ‘n verkorte ervaring gegee van wat hul hier by ons kan verwag,” sê die uitvoerende hoof.
Hy beskryf die dag as ‘n reuse sukses en noem die wye verskeidenheid plekke waar mense vanaf gekom het om BKO te kom ondersoek. Besoekers het van Windhoek, Paarl, Stellenboch, Pretoria, Rustenburg, Bloemfontein en Kimberly af gery om geleenthede vir hul kinders te ondersoek.
Die BKO-span beplan reeds om in 2025 vroëer te begin bemark sodat die besoekersgetal kan verdubbel. “Die ervaring gaan dieselfde bly, want dit moet ‘n egte Orania studentervaring wees,” sê Paul.
Paul is dankbaar teenoor die Orania-gemeenskap wat bygedra het om die besoekers welkom te laat voel. Sy boodskap aan jongmense: “Bou jou toekoms reg deur te studeer by BKO en te bou aan ‘n hoopvolle toekoms.”

Post Views: 110