Die Comrades Ultra Marathon nommer 97 is op Sondag 9 Junie deur bykans 22 000 atlete gehardloop. Daar het al 470 000 atlete aan hierdie uitmergelende marathon deelgeneem.
Dit is die wêreld se grootste, mees gewilde en oudste ultramarathon en tog trek dié uitdaging duisende om jaar na jaar weer deel te neem. Die blase, sweet, spierpyne en liggaamlike uitdaging ten spyt.
Meer as 5 000 vrywilligers is deel van die span wat hierdie groot marathon organiseer. Alhoewel die Comrades nie in 2020 en 2021, weens die grendelstaat, gehou kon word nie, groei die deelnemerstal steeds.
Oraniërs wat deel is van die Orania Atletiekklub het vanjaar weer die Oraniavlag hoog gaan swaai. Christo Muller het marathon 21 suksesvol gaan voltooi, Wayne McDermitt het sy vierde gehardloop, maar derde marathon voltooi en Joost Strydom het nommer 2 voltooi.
Rikus Bronkhorst is tans ‘n uitwoner, maar het ook die marathon suksesvol voltooi. Gerda Steyn het haar derde wen ingepalm en vir vroue die ou rekord laat spat. Duitser, Piet Wiersma, het sy eerste oorwinning behaal.
Christo Muller het met ‘n tyd van 10:07:30 klaar gemaak sy weergawe van gebeure met Koerania gedeel:
“Daar gaan soveel emosies deur jou wanneer Chariots of Fire oor die luidsprekers speel. Die adrenalien pomp dan 10bar! Ek verkies beslis die af-marathon, al is dit verder. Na 20 keer se deelneem ken ek die bulte redelik goed, maar ek het weer besef dat die afwesigheid van Orania se bulte nie gehelp het nie. Ek doen dit weer-en-weer omdat dit ‘n persoonlike uitdaging bly. Die kameraadskap en die gees rondom die paar dae is verslawend. Die voltooiing van die Comrades marathon sit jou in ‘n ander klas op sportgebied. Selfs ystermanne sê Comrades is vir hulle erger. Ek mik reeds om volgende jaar onder 9 ure te hardloop. Ek het op 65km in die 10uur bus (groot groepering van atlete waar die pas van hardloop en stap gereguleer word) geklim en dit het my deurgedra. Die aanmoediging van die skare dra elke atleet op die roete. Dié jaar het regtig vasbyt geverg. Ek het op 20km krampe in my kuite begin kry en dit het tot die einde aangehou. Ek was gou by die Groen nommerklub om my kos te kry, maar daar word ek toe buite die tent flou. Die mediese beamptes was binne sekondes daar om die pyn in my kuite te verlig, want die bloed het knoppe gemaak en hulle moes vryf om dit te laat losskiet.
Wayne McDermitt het met ‘n tyd van 10:22:59 klaargemaak en deel sy gedagtes:
“Al 4 wedlope was sulke verskillende ervarings dat dit onmoontlik is om een te kies wat meer uitdagend was. Ek moet wel sê ek sien nou weer uit na die af-wedloop. Ek kon voel dat ek nie genoeg kragoefeninge in my voorbereiding gedoen het nie en het daarom vroeg besef dat ek ekstra konserwatief moes hardloop om die wedloop klaar te maak. Comrades is ‘n uitdaging aangesien mens altyd jou vorige tye wil verbeter. Jy kan dit slegs doen deur ‘n verskeidenheid van faktore beter te bestuur as die vorige jaar. Die maande se voorbereiding en uitsien na Comrades is reeds verslawend. Die adrenalien gedurende die laaste week is die kersie op die koek. Die gevoel wat jy sal beleef as al jou beplanning eindelik uitspeel op die suksesvolle behaling van jou doelwit dien vir my as motivering. Tydens die wedloop kan jy jouself net motiveer deur te onthou dat dié marteling wel sal eindig. Ek word gemotiveer om volgende jaar weer deel te neem uit vrees om te vinnig sag te word, asook ‘n bietjie groepsdruk. Dit was ‘n hoogtepunt om te sien dat makkers dit ook almal klaar gemaak het. Niemand het dit maklik gehad die jaar nie. Ek dink nie die atmosfeer kan beskryf word nie. Jy MOET dit self beleef. Ondervinding is die enigste manier om werklik te weet wat dit bring. Tydens die wedloop begin almal met baie grappe en gesels, maar later verander dit na meer stilte, erns en senuweeagtigheid. Na afloop van die marathon is daar ‘n mengelmoes van emosies waar jy deel met die teleurstellings, maar dankbaar is vir die sukses.
Joost Strydom se marathon is binne 10:43:47 gehardloop en hy vertel self meer:
“Ek “verkies” nie op of af-marathon nie! Die af is makliker om te hardloop maar maak heelwat meer skade aan spiere. Die op is sielkundig en fisies harder. Veral om op 79km Polly shorts te kry is ‘n hartebreker! Ek het daar mense hoor vloek, hoor skel, hoor smeek, hoor bid, hoor pleit, mekaar hoor aanmoedig, mekaar hoor toesnou en mekaar hoor moed inpraat. Die op loop oor van die emosies. Ekt ‘n vinniger tyd af gehardloop en het dus ‘n beter herinnering daarvan. Maar ekt min kilos gehad vanjaar en met besering saam is dit ander faktore wat die op teenoor die af beinvloed. Ek het ‘n besering opgedoen waar ek ‘n meniscus geskeur het en kon van April af nie oefen nie. Krampe het my tot stillstand gedwing selfs wanneer kop en lyf reg was om te hardloop, laat in die wedloop. Dit was uiters frustrerend. Of daar 10 of 100km oor is, as jy stilstaan en tyd loop raak jy maar bekommerd. Ons het ‘n lang tradisie van famile wat uitdagings aanpak wat uithouvermoë verg. Pretorius en Strydom voorsate het nog altyd sulke uitdagings aangepak Dit is vir my iets wat ek geniet, geestelik en fisies wil onderhou, om in my mense se voetspore te volg. Dit is vir my uiters persoonlik, miskien NET persoonlik. Ek is ‘n beter middelafstand atleet en kompeteer beter op 13-21km waar my spoed my help. Hierdie gaan eerder vir my oor groter prentjie. Hulle sê mens raak verslaaf aan die serotonien. Ek het laasjaar euforia gevoel toe ek klaarmaak, vanjaar was dit net pyn en leiding. Min mense sien die tyd en moeite raak wat enige atleet insit. Mense oefen tans vir ysterman en ander kompetisies, ondersteun hulle asseblief as julle hulle sien. Na voltooing is die harde werk verby! Spanmaats wat deur dieselfde gaan; vroeg in die koue opstaan, braais en kuiers mis, vroeg gaan slaap op Vrydae om Saterdag vroeg te hardloop help om gemotiveerd te bly. Die Oraniers, familie en vriende se ondersteuning en aanmoediging is vir my goud. Mense se ondersteuning en baie gebed! Om ‘n gesonde liggaam te hê is so ‘n groot voorreg en om hierdie goed te kan aanpak is genade van bo. Om ‘n ASA geregistreerde klub op Orania te hê en met “ORANIA Atletiekklub” klere op die pad te gaan en ons gemeenskap te verteenwoordig beteken baie. Mens kyk sommer anders na jou eie gedrag en probeer bietjie ordentliker as gewoonlik wees. Die wegspring en deelneem aan Comrades is ‘n gevoel wat jy nooit vergeet nie. Dis elektries. Met 22 000 atlete wat oplyn vir die wegspring, sover as wat die oog kan sien ‘n “slang” van atlete wat uitkronkel teen die pad, tjok en blok skouer teen skouer. Al die tradisies soos die speel van Chariots of Fire, die hoenderhaan wat kraai, die elite atlete heelvoor, soos Gerda, Piet en ander wat regstaan om rekords te breek. Die heel agterste blokke met baie atlete wat met sekondes te spaar inkom op die 12 ure afsny. Almal hardloop dieselfde afstand. Dit is ‘n ongelooflike hoendervleisgevoel van afwagting wat nooit vergeet kan word nie.