Op Woensdag 14 Augustus het Orania Taaldag gevier en dit word as ‘n amptelike vakansiedag geag. Die gemeenskap is reeds vroeër per kennisgewing in kennis gestel dat die krag vanaf 08:00 tot 16:00 sou af wees om veilige netwerkkoppelings vir die langverwagte Orasolbattery te bewerkstellig.
Dit is toe dat Mauritz Meyer, hoof van die elektriese span, en kollega John Sutherland van vroeg tot laat behoorlik gespook het om die oorskakelingsmegananismes te koppel wat toevoer van die Orasolbattery en toevoer van Eskomkrag af na Orania se elektriese netwerk moontlik sal maak.
Die elektriese toevoer is uiteindelik eers teen ongeveer 18:30 aangeskakel en kon Oraniërs ‘n rustige vakansiedag afsluit.
Volgens André van Heerden, Hoof van Ingenieursdienste, is hy baie trots op sy span wat binne beknopte ruimtes met toerusting moes werk wat hoë konsentrasie verg omdat elke bout, draad en kabel presies reg geboor, geplaas en vasgemaak moet word. “En dan moes hulle nog teen tyd ook werk,” voeg hy by.
Later in Augustus sal ‘n ingenieur van die geregistreerde verskaffer die werking van die Orasolbattery kom toets sodat dit gekoppel en aangeskakel kan word. Koerania sal sy lesers op hoogte van die vordering hou.