Woorde en Wysies skop die KultuurKuier af
Stef Kruger en Dana Snyman besoek Orania tydens die KultuurKuier op 1 en 2 Augustus vanjaar.
Dié twee gewilde kunstenaars vat jou op ‘n woord- en musikale reis aangesien Stef al 45 jaar liedjies skep en sing. Liedjies soos Pennies op die spoor, Grassade in die wind, Tussen jou en my en Kronkelpad beloftes om maar ‘n paar te noem. ‘n Magdom kunstenaars het sy liedjies opgeneem, maar sy persoonlike vertolkings is uitmuntend. “Wanneer lirieke uit jou eie pen kom, is daar altyd soveel meer waarde daaraan wanneer jy dit self vertolk,” vertel Stef.
Skrywer Dana Snyman se nuutste boek, Seun, sal dan die rakke tref en die inhoud handel oor sy eie lewe. Dana het ‘n unieke manier van stories vaslê en dit kry pragtig lewe wanneer hy dit self vertel.
Stef en Dana sien daarna uit om die Oraniagehore te vermaak en hulle eiesoortige kuns te kom deel.
Die KultuurKuier se volledige program sal eersdaags op Koerania se sosiale media platforms gedeel word. Dit beloof om boekwurms, liefhebbers van kuns, musiek, kultuur en kuier se aptyt mateloos te bevredig.
Kaartjies kos slegs R120-00 en is by die Orania Beweging beskikbaar. Kontak die Okkasie Hasie by 083 726 1180 vir meer besonderhede.
‘n Aktuele Sakeontbyt met ‘n tema wat almal raak
Ouers, onderwysers, grootouers en enige persoon wat met kinders werk sal daarby baat om ingelig te wees oor die Bela-beleid, ‘n affêre! Die opvoeding en opleiding van die Afrikaner se kinders hang in die weegskaal met dié beleid se eise.
Dr Jaco Deacon, FEDSAS se Uitvoerende Hoof, sal saam met Willie Spies, bekende prokureur van Hurter & Spies in Pretoria dié beleid se huidige stand deurtrap. James Kemp, bekende omroeper van PretoriaFM sal die onderhoud voer sodat elke hoek en draai van dié belangrike kwessie aangespreek kan word.
Die aktuele sakegesprek sal op Vrydag 2 Augustus om 07:30 by die Maranata kerk aangebied word. Bespreek jou kaartjie by die Orania Beweging se inligtingskantoor. Kontak Dia van Staden by 083 726 1180 indien daar enige navrae is.
Boeke en Bredies
‘n Verskeidenheid skrywers sal Orania tydens die KultuurKuier besoek. Dana Snyman, Willie Spies, Riaan Grobler en Stef Kruger sal deel vorm van die groep wat by Die Kantien gaan kuier.
Daar sal ‘n paneelbespreking gehou word sodat almal die skrywers en hul skryfproses ‘n bietjie beter kan leer ken. James Kemp en Dia van Staden gaan met die besoekers gesels, maar daar sal ook geleentheid wees vir vrae vanuit die gehoor. Die skrywers gaan by die tafels rondom ‘n bredie en ‘n stomende koppie boeretroos plaasneem om met die inwoners te kuier.
Kaartjies beloop R80p.p. en is by die Orania Beweging beskikbaar.
Willie slaan ‘n eie rigting in
Willie Spies, ‘n bekende in regskringe, se boek is ‘n bundel van sy rubrieke wat oor ‘n lang tydperk in Beeld verskyn het. Hy besoek Orania tydens die KultuurKuier en bring die feite saam.
Dié boekbespreking sal op Vrydag 2 Augustus om 17:30 by die Oewer Restaurant aangebied word. Die bespreking is gratis, maar plekbesprekings is noodsaaklik. Kontak die Orania Beweging by 053 207 0062 vir jou bespreking.
Eierigting is‘n regsterm wat beteken dat jy die reg in jou eie hande neem.
In ‘n grondwetlike bestel is die uitgangspunt dat die burgery kollektief hul reg om hulself te beskerm oordra aan die staat. Wanneer die staat faal en nie meer sy burgers beskerm nie, verander die situasie. Dan raak eierigting nodig.
Willie Spies skryf sedert 2016, die jaar van Fees Must Fall in Suid-Afrika en die verkiesing van Donald Trump in die VSA, rubrieke vir Beeld en Netwerk 24.
Dit ondersoek ’n nuwe vryheidsideaal, 30 jaar na die verkiesing van 27 April 1994 en beskryf hoe eierigting regmatig deur instellings van die burgerlike samelewing plaasvind wat leemtes vul wat die staat ooplaat.
Bron: Naledi
Orania se eie mense lewer ‘n skouspel
Daar word met opwinding uitgesien na talentvolle Oraniërs wat die verhoog sal vol staan met hul sang, dans en dramavernuf. Die Orania Skouspel is vir die eerste keer in 2023 deur die Okkasie Hasie aangebied.
Dr Phillip Nothnagel is die beskermheer van die Orania Skouspel wat op Saterdag 3 Augustus om 18:30 in die Gemeenskapsaal aangebied word. Hy sê: “Vir 30 jaar was ons skaam en skugter. Vir 30 jaar was ons jammer om te leef. Drie geslagte van ons kinders dink dit is yskoud om engels te praat of om ons taal met engelse woordjies te besoedel. Dit gebeur in die kunste, die sportwêreld en selfs op akademiese gebied. Wees stil, het ons gedink. Lê laag en en kyk niemand in die oë nie, dan sal hulle ons uitlos. Maar nee, hulle vat ons laag!
Ons het hulle respek verloor. Nou is dit klaar! Ons gaan sing dat die heuwels weergalm. Ons gaan vermaak dat dit dreun. Ons gaan mense laat opspring van vreugde en hulle trots maak op hulle pragtige kultuur!
Van Alaska tot in Nieu Zeeland gaan ons mense dwing om notisie daarvan te neem dat mooi dinge met die Afrikaner gebeur. Dit gebeur alles in Orania!”
Op die program is name soos Ané Kruger, Ciska en Sumari de Wet, Christelle de Villiers en Marcel Jacobs. Instumentale bydraes gaan die gehoor verras en nuwe stemme sal gehoor word. Dia van Staden droom daarvan dat samestellings van Orania se eie talent by die Afriforum Teater in Pretoria gaan optree.
Bespreek jou kaartjie teen R100-00p.p. by die Orania Beweging.