Koerania

Raar maar waar

Die energie loop hoog en die skaterlag word afgestof vir die derde Raar maar Waar pretaand wat op Saterdag 25 Mei om 18:30 in die Orania Gemeenskapsaal aangebied word. Daar word vanjaar tussen ‘n mansspan en ‘n vrouespan gekompeteer.

Die speletjies sorg vir ‘n onvoorspelbare program wat spanlede, persoonlikhede en gaste op die punt van hulle stoele hou. Dia van Staden is die aanbieder van die program en James Kemp tree as die regter op om seker te maak dat alles vry en vrolik vloei…

Die twee spanne word vanjaar deur Afsaal eiendomme en Koerania geborg. Die Forum vir Gestremdes gaan baat by die fondse wat ingesamel word. ‘n Splinternuwe Musiekfabriek gaan opslae maak, want daar is ‘n hele klomp kinkels in die note wat hulle bring! Christelle de Villiers en ds Ruan Combrink swyg oor die verskeidenheid liedjies wat hulle gaan opdis.

Die persoonlikhede word vanjaar ook in mans en vroue verdeel. Marli Snyman en Hester Botha, wenners van die afgelope twee jaar se Raar maar Waar kan nie wag om hulle deel in die gehoor te doen nie, aangesien die gehoor met die meerderheid speletjies saam moet sing, raai of vertel.

Die sombomme van OSK staan gereed om die puntetelling by te hou en die geld te tel wat mildelik geskenk word. James, die regter, hou ‘n vinnige veiling aan die einde van die aand, want hy wil mos nie bloed uit ‘n klip tap nie?

Teen slegs R1 200-00 per tafel vir tien persone word ‘n rekordgetal mense vanjaar verwag. Elke tafel bring hul eie piekniekmandjies met kos en te drinke en is seker van ‘n aand vol plesier!

Kaartjies sluit deelname aan die speletjies vir die gehoor in en lawwe pryse kan gewen word! Kontak die Okkasie Hasie by 083 726 1180 om seker te maak dat jy dié jaarlikse lekkerte nie misloop nie.

Die een helfte van die gehoor moes uithaal en wys met sang en bewegings.
‘n Terugblik op 2023… Die een helfte van die gehoor moes uithaal en wys met sang en bewegings.
Wayne Mcdermitt, Christelle de Villiers en Leon Strauss was flinke teenstanders in 2023.
‘n Terugblik op 2023… Wayne Mcdermitt, Christelle de Villiers en Leon Strauss was flinke teenstanders in 2023.
Post Views: 156