Koerania

Die Santiago Camino word oor ‘n afstand van 779km gestap, gedraf of met ‘n fiets gery. Op 16 Mei trek René Bredenkamp (60) en haar jarelange vriendin Thamara Erasmus (67) uit Saint Jean Pied de Port weg om op 20 Junie in Santiago te eindig.
René en Thamara het in 2023 dieselfde tog aangepak, maar het met baie meer inligting en elkeen ‘n spesifieke doel die tweede tog beplan. “Ek het ‘n klomp emosionele bagasie gehad wat ek moes uitsorteer. Ons werk en werk net en dan ly introspeksie daaronder.” René is ‘n fisioterapeut en woon op ‘n plaas naby Vanderkloof.
Die kamerade het tot in Parys gevlieg en die trein na St Jean geneem om die eerste nag daar te oornag. Hul het ‘n halwe dag gestap en die boekie met hope inligting oor afstande, besienswaardighede, eetplekke en akkommodasie, wat elke stapper langs die pad benodig, weer handig gevind.
Aangesien hulle so bietjie vlugvoos was en hulle sakke nog nie lekker gemaklik gesit het nie, het hulle die lang tafel met ‘n pelgrimsete van hoender, vis en vark met skyfies baie geniet. Die voorgeregte wat op meeste plekke bedien word is hoofsaaklik sop en soms is daar slaai en ‘n glas wyn ingesluit. “Hulle lensiesop is meesterlik. Dit smelt in jou mond,” vertel René met ‘n glimlag. Vir nagereg is roomys of jellie en beskuitjies gewoonlik ‘n hoogtepunt. Daar was 52 stappers by dié langtafel in Orison wat elkeen hulself aan die groep voorgestel het. Dié dorp bestaan uit twee geboue.
Sy beskryf dat die eerste derde van die roete swaar is op ‘n mens se lyf. ‘n Mens se voete en jou rug word moeg. Die tweede derde begin emosionele bagasie loswikkel. Sy vertel dat dit nie beplan word nie, maar ‘n outomatiese gevolg is.
Dit is tydens die laaste derde van die tog wat die lewe mooi word, want jy besef dat jy meestal ‘n berg van ‘n molshoop maak. “Dit was vir my lyf belangrik om deur die prosesse te gaan sodat ‘n kosbare ontdekkingstog kon plaasvind,” sê René.
By die meeste slaapplekke was internetdienste beskikbaar, want hulle het slegs op Whatsapp en e-posse gewerk sodat hulle nie heeldag hul fone dophou nie. Dié twee dames het nie vreeslik geoefen voor hulle die tog aangepak het nie, maar ten minste was hul vir ‘n tweede rondte beter ingelig oor wat om te verwag.
René vertel dat die ongelooflike natuurskoon, eeue oue katedrale en blommeprag jou soms verwonderd laat staan. Sy sal nie ‘n solo stap aanbeveel nie, veral aangesien daar soms uitdagende terreine is, soos die haaitande van die Pyrenese berge, waar ‘n maat baie handig is vir bemoediging of fisiese ondersteuning. Dit is ook hier waar twee stapstokke die kanse vir val skraler maak.
Hulle wou nie gebonde wees aan spesifieke plekke waar hul moet stop of oornag nie en het dus soms goeie dae gehad waar hul genoeg kilometers kon inpas en ander dae was korter roetes goed vir die lyf en die gemoed. Blykbaar is al die Caminos met geel pyltjie gemerk, en dit maak die stap byna soomloos.
Jy kan gedeeltes van die roete taxi ry of vlieg, wat dit duurder maak. Om jou sertifikaat te kry dat jy die tog suksesvol voltooi het, word jy verplig om sekere plekke te stap. Osobrero is baie hoog en ons het daar van ‘n taxi gebruik gemaak. Daar is ‘n massiewe bronsbeeld van ‘n pelgrim op die hoogste punt. “Sy tone is deur pelgrims vol pleisters geplak,” lag sy. Hulle het ‘n dag af geneem om ‘n museum te besoek wat eeue se geskiedenis uitbeeld.
“Wanneer jy moeg word of die terrein uitdagend is, en selfs wanneer jy in ‘n herberg ‘n dun ongemaklike matrassie kry, moet jy die lag in alles sien.” Hulle het reën, hael en donderstorms trotseer, want jy moet by ‘n plek uitkom waar jy kan slaap. “Elke lyfseer word oorwin met die mooi blomme, natuurskoon of ‘n eekoring wat uit jou hand uit kom eet.”
“Sommige mense begin die tog as toeriste en eindig dit as pelgrims. Die Camino laat jou eienskappe van jouself ontdek wat nie baie ander plekke of aktiwiteite sal doen nie. Ek beveel dit vir enige persoon aan wat die verlede wil begrawe of wat ‘n nuwe weergawe van hulself wil ontdek.”

Die belangrike lys wat vooraf gemaak moet word:
Rugsak: ‘n 36 – 40L grootte sak is voldoende, maar ‘n lugredery se voorskrifte vir handbagasie help baie. Jy wil nie vir ‘n staptog arriveer sonder jou toerusting nie. Die 3L ingeboude watersak wat deel vorm van jou sak is baie voordelig. Onderaan die sak beveel ek ‘n waterdigte bedekking vir wanneer dit reën – sommer gou byderhand vir wanneer die weer onguur raak en jy veral jou sak en die inhoud daarvan wil beskerm. Pak al jou goed so georganiseerd as moontlik in selfsluit plastieksakkies.
Kry ‘n sak met ‘n band om jou heupe, want dit voorkom seer skouerspiere en laat toe dat jou heupe die sak se gewig help dra.
Klere: Twee langbroeke, een byna soos ‘n fietsrybroek en ‘n sagte rekbare driekwartbroek, twee gemaklike t-hemde. ‘n Baadjie wat ‘n wollerige tekstuur het vir wanneer dit koud is. Haar verebaadjie sonder moue was baie handig.
Slaapsak: Sy het ‘n vereslaapsak gekry wat slegs 750g weeg en heerlik warm is. ’n Opblaas kussing en ‘n gewone vleeskombersie was baie handig vir ekstra koue dae.
Skoene: Sy beveel ‘n wye toonboks aan sodat tone nie teen mekaar druk nie. Dit voorkom blou toonnaels en blase. Gebruik elke aand ‘n salf wat jou voete se vel soepel en sag hou. ‘n Houertjie macurocrome, pleisters, watte, naald en garing (vir moontlike blase) moet jy maar inpak.
‘n Breërandhoed is belangrik en help selfs vir wanneer dit reën. Vier paar kouse wat dik en warm en nuut is sal jy met dankbaarheid aantrek. Genoeg onderklere wat jy vir elke dag kan uitspoel. Tuimeldroeërs en wasmasjiene se gebruik is duur en dit help soms om met medestappers die kostes vir die gebruik van masjiene te deel. Sy voel dat ‘n haardroeër sinnelose gewig is.
Linne: Dit is die moeite werd om te belê in ‘n groot staphanddoek wat lig is en vinnig droog word. Neem ‘n waslap saam. Die storte is baie klein en beweging word beslis beperk. Sorg vir ‘n waterdigte stortsak wat aan ‘n haak kan hang, sodat jy dit saam met jou in die stort kan neem. Jou eie hakke is ook handig, want nie alle stortgeriewe het nie. Binne die klein stort moet jy afdroog en jou klere aantrek. Dit is nogal ‘n spasieuitdaging.
Toiletware: Daar is op elke roete aanvullings beskikbaar en jy hoef dus nie die grootste items te neem nie. Gooi ‘n wasmiddel vir jou hele lyf in 2 klein weggooibotteltjies. Lyfsalf kan in dubbele weggooibare selfsluitsakkies gesit word. Onthou ‘n sonskerm!

René Bredenkamp het haar eindbestemming op 20 Junie 2024 in Santiago bereik. Dié staptog het haar herinner om dankbaar te wees.
René Bredenkamp het haar eindbestemming op 20 Junie 2024 in Santiago bereik. Dié staptog het haar herinner om dankbaar te wees.
Post Views: 72