Koerania

‘n Baljaarplek vir almal

Die kinders kon hul opgewondenheid nie verdoesel nie. Die knip van die lint het dit amptelik gemaak.
Kleingeluk se gemeenskapspark is oop!

Die samewerking tussen Solidariteit Helpende Hand en Werk en Welstand het tot groot vreugde vir die kinders van Kleingeluk gelei. ‘n Ruimte waar daar gespeel en gebaljaar kan word is ‘n luukse in ‘n dig beboude gebied. Orania het die voorreg om publieke ruimtes te skep waar daar vrylik beweeg kan word en gesonde ontspanning geniet kan word
Dr Dirk Hermann, Bestuurshoof van Solidariteit, het met die amptelike opening van die parkie gesê dat die park vir kinders geskep is, maar dat ouers hul kinders moet vergesel sodat hulle as opvoeders kan deel in die opvoedkundige waarde van speel, ontspanning en vars lug.
Ds Hannes Noëth, Uitvoerende Hoof van Helpende Hand, het beklemtoon dat dié gemeenskapsparkie die enigste diesulke projek van sy soort uit meer as 10 000 gemeenskapsprojekte wat Helpende Hand vanjaar oral in die land aangepak het. “’n Park skep ‘n geleentheid om te onthou, ‘n nes, ‘n veilige omgewing, ‘n plek waar jy kan hoort,” noem hy.
Die uitvoerende hoof van die Orania Ontwikkelingsmaatskappy, Frans de Klerk, het sy dank teenoor die konstruksiespan uitgespreek en die gehoor ingelig van nog 100 erwe wat in Kleingeluk ontwikkel gaan word.
Christiaan van Zyl, bekende argitek het die park ontwerp en kan beslis met trots na vele van sy ontwerpe in Orania kyk.
Dr Hermann het gesê dat die parkie nou die gemeenskap se eiendom is, dat hul dit moet koester, die parkie as rusplek moet gebruik, maar ook as gesinne die vryheid van die park moet geniet.

Post Views: 119