Yoraldé van Staden het haar Baccalaureusgraad in Arbeidsterapie aan die einde van 2023 aan die Universiteit van die Vrystaat voltooi. Yoraldé is tans besig met haar hospitaaljaar in Jagersfontein waar sy hoofsaaklik by die Itumeleng kliniek in die aangrensende informele nedersetting werk, en elke Dinsdag by die kliniek in Edenburg werksaam is
Yoraldé verduidelik dat ‘n hospitaaljaar verpligtend is voordat jy uiteindelik mag praktiseer. “Daar was verlede jaar sprake dat die hospitaaljaar weens finansiële redes afgeskaf sou word. Ek was baie opgewonde om moontlik dadelik in Orania te kan begin werk, maar heelaas het dit nie so gerealiseer nie en maak ek nou die beste van die situasie,” sê sy met die vasberadenheid van ‘n hoopvolle jongmens.
Sy het onlangs uitgevind dat sy die eerste arbeidsterapeut in ‘n lang tyd is wat haar hospitaaljaar in Jagersfontein wou doen. Die verbasing van die personeel omdat sy op 2 Januarie reeds aangemeld het vir werk was duidelik. Aangesien die Jagersfontein hospitaal baie klein is en die twee klinieke waar sy ook moet dienste lewer geen toerusting het nie, moet sy self aankoop wat sy benodig. Yoraldé moes die verpleegpersoneel van die Itumeleng kliniek bewus maak van wat arbeidsterapie behels en watter dienste sy kan lewer.
Na vier jaar se studies bly dit ‘n moeilike vraag of sy die regte beroepskeuse gemaak het. Yoraldé vertel hoe die laaste twee jaar van studeer vir haar moeilik was en dat dit gevoel het of sy en haar mede-studente hul empatie verloor. “Ek is passievol oor my beroep en glo dat arbeidsterapie regtig mense se lewensgehalte kan verbeter,”deel sy. Sy sien baie daarna uit om in 2025 met die Orania gemeenskap te kom werk, aangesien dit mense is wat haar na aan die hart lê en oor wie se welstand sy besorg is.
Dié dame geniet dit om alleen te werk, maar besef dat sy as arbeidsterapeut baie nou met ‘n mediese span, ouers en onderwysers sal moet werk om die beste sorg aan haar pasiënte te verskaf.
‘n Hospitaaljaar is veronderstel om geleenthede tot verdere ondervinding te bied, maar in die klein dorpie waar sy haarself sonder toerusting bevind, dwing dit haar daartoe om ondersoek in te stel na gespesialiseerde kursusse soos sensoriese integrasie, ensovoorts. ‘n Meestersgraag mag dalk net in die toekoms vir haar wink.
Yoraldé is ‘n innoverende meisie en maak allerhande planne om fiks te bly en haar liefde vir dans uit te bou. Haar omgewing is nie baie veilig nie, maar haar vrye tyd smiddae word tans met touspring gevul. Die staanpaal, wat vir paaldans aangewend word, is een van haar voorliefdes. Youtube is tans haar afrigter en inspirasie vir nuwe toertjies en bewegings. Sy kyk nou uit vir ‘n hanghoepel wat sy in ‘n groot boom in die tuin kan hang sodat sy haar sport steeds kan beoefen.
Hierdie dogter van Zelda en Hans van Staden is ‘n Oraniër in murg en been. Sy kan nie wag om haar praktyk in Orania te open nie. Sy wou nog altyd met jong kinders werk, maar besef dat sy dalk aanvanklik met die breër mark sal moet werk tot die stad behoorlik gegroei het. Trouklokke sal vroeg in 2025 vir haar en Hugo Grotius, haar verloofde, opklink. Sy sien uit na huis-huis speel, tuinmaak en ‘n paar hoenders op die erf.
Die idee van oorsee gaan het vroeër jare idilies geklink, maar sy glo nie dat die avontuur van die onbekende haar persoonlikheid sal pas nie. “Ek verkies standvastigheid,” bevestig sy.
Sy beveel matrikulante aan om seker te maak van hul beroepskeuse deur met ander in die bedryf te gesels wat dit reeds doen. Die feit dat arbeidsterapie ‘n uitdagende kursus is wat uithouvermoë verg moet nooit onderskat word nie, maar ‘n besliste vooruitsig om mense te help sal elkeen deur die uitdagings van die kursus dra.
“Verlede jaar tydens ‘n baie moeilike tyd het ek Josua 1:9 gelees, en dié vers het my deur die res van die jaar gehelp. Noudat dinge bietjie rustiger is hou ek my fokus op die toekoms en weet ek dat elke dag my ‘n bietjie nader aan my geliefdes en drome bring,” glimlag Yoraldé.