Koerania

Liezé van Heerden is slegs 10 jaar oud en het haar voorliefde vir haar moedertaal getoon deur vir ‘n digkompetisie in te skryf. Liezé vertel dat mamma Chantel die kompetisie op sosiale media gesien het en vir haar gevra of sy sou belangstel om in te skryf. “Ek’t toe gesê ja, want ek hou van gedigte skryf. Dit is lekker!”

Sy verduidelik vinnig dat sy nie daarvan hou as mense Mengels praat nie. “Ek hou nie van Mengels nie, want mense praat partykeer so baie Engels dat dit klink of hulle Engels is en net probeer Afrikaans praat,” sê die bekkige meisiekind. “Ek hou baie meer van Afrikaans as van Engels, want dit is my moedertaal en my prag en praal.”

Alhoewel sy eendag mooi klere wil maak omdat sy naaldwerk baie geniet, is lees nog ‘n stokperdjie wat sy beoefen. “Ek lees enige iets, maar hou baie van die Maasdorpreeks wat deur Stelle Blakemore geskryf is,”vertel Liezé.

Koerania hou graag ons jongmense dop wat ‘n voorliefde vir hul moedertaal toon!

Afrikaans is my Moedertaal –
Afrikaans is my prag en praal.
Mengels kan ek nie verdra.
Moedertaal praat, laat my nie kla.
Is ek Frans
of Afrikaans?
Afrikaans, liewer dit
as om op Frans te sit.

Gaan kyk by @kwikstertontwerp op facebook na nog gedigte wat ingeskryf is as deel van die Moedertaaldagvieringe.

Post Views: 103