Johan de Lange is selfs in sy vriendekring bekend as ‘n boerseun en het verskeie persone verras toe hy onlangs as Instrukteur van die Springbok Vliegakademie in Orania aangekondig is. Johan is ‘n Graad III vlieginstrukteur met ongeveer 380 vliegure onder sy vlerk. Johan het sy vliegloopbaan in 2018 by Westline Aviation in Bloemfontein begin. Hier het hy ongeveer 70 ure se ondervinding as instrukteur opgedoen.
Johan en Marli is byna 2 jaar gelede getroud. Hy beskryf sy vroutjie as sy steunpilaar wat hom van die begin af in sy vliegloopbaan ondersteun. Sy ouers, Johan en Anneke, is albei grootliks by die boerdery betrokke en hy verwys met baie trots na hulle as ‘n hegte gesin wat dit geniet om tyd saam te spandeer. Sy sussie, Anel, beplan om vroeg vanjaar in die huwelik te tree en die egpaar gaan ‘n paar jaar in Amerika woon.
Pa Johan het lank aan sy seun gekarring om sy vlieglisensie te kry, om ten minste ‘n agterdeur oop te hou as die landbougraad nie vir hom werk nie. Die vliegstorie begin toe sy aantrekkingskrag kry nadat Johan ‘n opedag by ‘n Bloemfonteinse vliegskool beleef en ‘n inleidingsvlug onderneem het.
“Ek was veral beïndruk met die struktuur en dissipline waarop alles in die bedryf gedoen word. Daar is geen kortpaaie, ongeag wie jy ken, kan niemand jou help om ‘n trappie van die leer oor te slaan nie, en alles verg harde werk en baie dissipline,” vertel ‘n nederige Johan. Hy vertel dat sy glimlag met elke opstyg vanaf die aanloopbaan verbreed en sy vinnige aanvoeling vir die instrumente en kontroles redelik natuurlik gekom het.
Hy verduidelik dat vlieg nie ‘n moeilike taak is nie, maar dat die opstyg en landing meer fokus verg. “Waar dit moeilik raak is as daar in die lug ‘n fout opduik en jy kan nie van die pad aftrek om die probleem te ondersoek nie…”
Die voorvlug kontrolelys moet baie aandagtig deurgegaan word voor elke vlug om te verseker dat daar geen voorkombare probleme tydens die vlug is nie. Dokumentasie van ‘n vliegtuig, die dokumentasie en beplanning vir die vlug, jou voorvlugkontrolelys, die nagaan van brandstof en oliehoeveelhede is voorbeelde van wat nagegaan word voor ‘n vlug. Indien iets tydens ‘n vlug gebeur moet jy baie vinnig die situasie opsom en ‘n veilige landingstrook kies wat die minimum skade aan die passasiers, vliegtuig of jouself gaan doen.
Johan het ‘n baie eenvoudige en gestruktureerde sisteem saamgestel waarmee hy en die voornemende studente van ‘n kant af gaan begin werk. Die inhoud behels grondskool, ‘n inligtingsessie spesifiek vir die oefening van elke dag en ‘n volledige lys van presies wat van die student verwag word voor, tydens en na ‘n vlug. Die doel van die sisteem is om die student gerus te stel en presies te wys wat van hom verwag word.
Dié jongman is baie dankbaar vir die geleentheid wat Springbok Vlieg- en Grondakademie en die span hom bied. “Ek is baie lief vir die boerdery, maar ek sal altyd ‘n passie hê vir vlieg. Oom Flippie, Petro en Ben het my droom baie vinnig ‘n realiteit gemaak en ek kon nie vir ‘n beter span gevra het nie. Ek sien daarna uit om onder hul leiding meer te leer van die bestuur en operasionele kant van die vliegskool.,” vertel Johan opgewonde.
Johan kon sy privaatlisensie (PPL) binne 3 maande voltooi en dit was net die landings wat effens meer tyd geneem het om te bemeester. Alhoewel hy gespanne was oor die radiowerk, het hy dit vinnig onder die knie gekry. Die kommersiële lisensie (CPL) was wel ‘n ander saak. Die vliegoefeninge met ‘n instrumentgradering was op daardie stadium vir Johan uitdagend en die 10 vakke wat hy moes skryf het baie van sy tyd opgeneem.
Daar is ‘n paar algemene foute, het hy al ondervind, wat soms deur studente gemaak word. Aangesien daar spesifieke oplossings vir spesifieke situasies is, vergeet studente soms om die korrekte stappe te neem om ‘n fout te korrigeer. Hy voeg by dat studente radiotransmissies of sekere vlugkontroles nalaat aangesien dit ‘n tydjie vat om gewoond te raak aan die kajuitomgewing en prosedures.
Johan skets ‘n ideale kandidaat wat as ‘n vlieënier wil kwalifiseer as iemand wat leiding kan neem, wat kan kommunikeer, verantwoordelik is, ‘n sin vir rigting het, kalm kan bly in ‘n oomblik van nood en wat vinnig en met selfvertroue in alle omstandighede kan optree. “Dissipline en self verantwoordelikheid om jou en die passasiers se veiligheid bo alles te stel, is van kardinale belang,” beklemtoon Johan.
Sy droom vir Springbok Vliegakademie is om ‘n suksesvolle vliegskool te wees waar studente hul lisensie sonder onnodige struikelblokke kan voltooi. “My eerste prioriteit is nou om ons eerste studente na die beste van my vermöe op te lei en dalk kan ons eendag vragte vlieg of betrokke raak by mediese vlugte na groter stede,” droom hy verder.
Kontak Petro van Wyk, algemene bestuurder van die Springbok Vliegakademie by 083 307 6112 vir meer besonderhede.