Sy is byna 16 jaar al ‘n personeellid van die Orania Dorpsraad, en is dol gelukkig om as debiteureklerk haar posisie met trots vol te staan. Marianne Gerber woon reeds agtien jaar in Orania, is met Armand getroud en hulle het 2 kinders, Mieke (9) en Ethan (13).
Sy beveel vir enige werknemer aan om ‘n liefde vir hulle werk te ontwikkel. “Ek kan my nie voorstel dat ek werk toe moet gaan en nie daarna moet uitsien nie,” vertel Marianne. Dit beteken vir haar baie om met betroubare kollegas omring te wees wat haar in haar werk versterk. Hulle werk al ‘n geruime tyd saam in die Korporatiewe Dienste afdeling en hul vul mekaar aan en staan mekaar by met raad en daad.
Marianne is verantwoordelik vir die uitstuur van diensterekeninge en daarin word akkuraatheid van haar verwag. Volgens haar afdelingshoof, Janneman Roux, is Marianne ‘n staatmaker wat smettelose lojaliteit vir haar werk, kollegas en instansie toon.
Marianne sal nie omgee om nog 15 jaar by die Orania Dorpsraad werksaam te wees nie, want elke dag is vir haar ‘n verrassing. “My dae is nooit voorspelbaar of dieselfde nie. Ek geniet die afwisseling wat my werk inhou.”