Koerania

In haar boek vol lewenservaring staan daar al eienaar van ‘n biltongwinkel, wassery en kunswinkel. Die eiendomsmark was dus nie Marda se eerste keuse vir ‘n beroep nie.
“Donkiejare terug het ‘n vriendin, Elmarie du Plessis, ‘n agentskap in Richardsbaai begin. Sy het geglo dat ek ‘n uitstekende agent sou uitmaak en in 2005 word ek as agent geregistreer,” vertel Marda van Dyk.
Die Bo-Karoo Eiendomme-storie het in Durban en Richardsbaai begin. Die huidige prinsipaal het saam met Marda vir dieselfde agentskap gewerk, maar in verskillende stede. Marda vertel hoe daardie agentskap se geestelike opbouing van agente ‘n kernrol in haar lewe gespeel het. “Alle agente het maandeliks bymekaar gekom, saam gebid en hul lewens- en besigheidsvertroue in die Here se veilige hande geplaas.”
Dit is tydens daardie sessies wat Marda en André Bredenkamp mekaar gesien en leer ken het. Sy sien eendag ‘n plasing op Facebook wat Sylvia, André se vrou, plaas en sien dat hulle beplan om te trek. By nadere ondersoek vind sy toe uit dat Orania ook hul nuwe tuiste gaan word.
Marda en haar man Thinus se besluit om na Orania te verhuis het na drie aanvanklike besoeke gebeur. Haar dogter, Cindy en manlief Gerhard Vos met hul twee kinders, het die trek saam aangepak. In 2019 sluit Marda by die Bo-Karoo Eiendomme se span aan, en die res is geskiedenis.
Die hoeveelheid vreemde situasies wat Marda al in die eiendomsbedryf beleef het, is legio. Haar belewenis van eienaars van eiendomme wat onrealistiese verwagtinge het of wat nie die belangrikheid van hul eie rol in die verkoopproses verstaan nie, kan sy ‘n boek oor skryf.
Sy verduidelik die belangrikheid vir ‘n eienaar om hul eiendom so aantreklik as moontlik vir ‘n voornemende koper te berei. “’n Huis is net soos ‘n mens. Eerste indrukke laat ‘n blywende indruk op iemand,” sê sy. Die belangrikheid van ‘n netjiese tuin, sonder rommel wat rondlê, en ‘n huis wat ten minste skoon en sonder oordadige ornamente vertoon kan word, verkoop volgens Marda makliker. Aangesien foto’s elke eindom se aanvanklike verkoopsmiddel is, is dit voordelig as ‘n netjiese voorkoms tot die kwaliteit van foto’s kan bydra.Marda sê dat ‘n totale wanordelike huis dit vir ‘n potensiële koper moeilik maak om sy eie meubels en hartsgoed in daardie spasie te visualiseer.
Sy vertel hoe huise na aanleiding van ‘n eerste besoek vir ‘n belysting al ‘n bynaam kan kry. Sy onthou die aartappelhuisie, kliphuisie en rothuis sommer vinnig. “As agent besef ek dat almal in Orania hard werk, maar die verkoopproses is ‘n vennootskap tussen agent, verkoper en koper.” Oor foute van ‘n eiendom wat van ‘n agent of koper deur ‘n eienaar weerhou word, raak sy sommer kriewelrig. “Leuens haal jou altyd in,” stel sy.
“Ek raak begeesterd as ek ‘n koper kan help om ‘n eiendom te vind waar hy of sy gelukkig gaan wees.” Marda raak skoon emosioneel as sy vertel van die satisfaksie wat sy daaruit put wanneer sy ‘n gesin kan help om hulle plekkie in die son te vind. Sy praat met waardering van kliënte met wie sy al jarelange verhoudinge opgebou het.
By Bo-Karoo Eiendomme beleef Marda, Gerhard Vos en Adri Zietsman dat die eiendomsmark tans onstabiel is. “Ons is op ‘n mallemeulerit. Die ekonomie druk en die onsekerheid van verkiesingsuitslae en koue speel beslis ‘n rol.”
Kritiek oor huispryse van voornemende kopers hanteer sy met feite, sonder om emosioneel daaroor te raak. Die vraag- en aanbodgebeure het pryse die hoogte laat inskiet. Aangesien huise wat té hoog geprys word gewoonlik lank in die mark bly, hoop sy ook op die stabilisering van pryse omdat markverwante pryse tot almal se voordeel sal wees.
Marda se fokus is nie net op verhurings nie. Sy verkies om die verhuring van ‘n eiendom te hanteer as die koper nie self daar gaan woon nie. Op so ‘n manier bly haar betrokkenheid by die verkoper en moontlik die volgende koper.
Haar belewenis van besoekers aan Orania en voornemende kopers se geselsies lei telkens na hoe netjies Orania oor die algemeen is, die vriendelikheid van inwoners, die voordeel dat studente na skool hier kan studeer en die besige vermaakkalender. Die een klagte wat gereeld geopper word is sommige onnet erwe wat, na meer as een besoek aan die dorp, steeds onnet voorkom.
Sy is tans besig met haar NQF5 sodat sy as prinsipaal by André, wat Orania intussen verlaat het, kan oorneem. Daar is nie regtig vryetyd vir dié vrou, ma, ouma, vriendin en besigheidseienaar nie. Sy vind bietjie vrede as sy vir haar seun Jan en sy gesin in Paarl gaan kuier.
Marda se droom is om ‘n standvastige agentskap in Orania te bou wat op eerlikheid en betroubaarheid geskoei is. “Dit gaan nie net oor wat ek in my sak kan steek nie. Ek wil ‘n pad stap met verkopers en kopers sodat alle partye tevrede sal wees. Ek beleef vreugde as ek my werk reg doen.”

Marda van Dyk staan aan die hoof van Bo-Karoo Eiendomme in Orania waar dienslewering vir haar ‘n prioriteit is.
Marda van Dyk staan aan die hoof van Bo-Karoo Eiendomme in Orania waar dienslewering vir haar ‘n prioriteit is.
Post Views: 64