Die immergewilde Mampoer Kultuurfees en Kampioenskappe is al vir dekades een van die bekendste feeste in Pretoria en vanjaar het duisende mense kom kuier toe dié fees vir die eerste keer by die Voortrekkermonument aangebied is.
Die fees is vanjaar ouder gewoonte in samewerking met die Mampoerstokersgilde van Suid-Afrika aangebied.
Oom Alwyn Swart, voorsitter van die Mampoerstokersgilde, sê hy is baie dankbaar vir die opkoms vanjaar en verál bly om te sien hoeveel mense inkoop in nie net die mampoerkultuur nie, maar ook Afrikanertradisies soos boeresport en jukskei speel.
“Die jaar was dit die eerste keer wat ons die fees by ’n nuwe venue aangebied het en ons is baie dankbaar dat dit só ’n groot sukses was,” sê Swart.
“Vanjaar het ons ’n rekordgetal inskrywings van 685 bottels mampoer en likeurs vir die kampioenskappe gekry. Ons het weer baie lekker, unieke inskrywings gekry en ek dink ons het selfs die grootse fynproewers gelukkig gehou.”
Die algehele wenner vir die tweede agtereenvolgende jaar was Marijke Kleynhans van Stilbaai.
Henk Maree, bestuurder van funksies en feeste by die VTM, sê vanjaar se fees was een van die lekkerste feeste van die jaar op die monumentterrein.