Die eerste KultuurKuier is van 1 tot 3 Augustus in Orania aangebied. Dit is ‘n bedrywige wintermaand en die groot verskeidenheid aktiwiteite wat aangebied was kon elke voorkeur aanspreek.
Dana Snyman en Stef Kruger het as ‘n duo ‘n kragtoer van teks en liriek gelewer. Die gehoor praat van emosies wat deur die aanbieding aanhoudend gewipplank het. Lag met ‘n traan word altyd as ‘n dinamiese samevoeging aangevoer, en hier was dit nie ‘n uitsondering nie.
Nita Cronjé, vriendin van Dana Snyman, noem dat dié samevoeging van twee sulke woordkunstenaars haar hartsnare geroer het en tot ‘n kragvertoning aanleiding gegee het.
Die formaat van die Orania Skouspel was vanjaar as ‘n huiskonsert by die hoewe van Riaan en Marcel Jacobs aangebied. Deelnemers het weke lank geoefen en gepoog om elke griepkiem teë te werk. Nie almal was suksesvol nie, maar entoesiasme en talent is ‘n lieflike samesmelting wat elke okkasie tot vlakke van sukses kan ophelder.
Dia van Staden, redakteur van Koerania en die Okkasie Hasie het in 2023 dié projek begin. “Ek begeer om die wonderlike talent van ons dorp na ‘n breër gehoor te neem, sodat ander Afrikaners kan deel in die kreatiewe waarde van ons dorp se mense,” sê Dia.
Die kwaliteit van die items wat deur individue, duo’s en groepe aangebied is, word wyd gerespekteer en aangemoedig. Riaan Grobler, skrywer, sanger en omroeper by PretoriaFM het self opgetree en saam met Dia die program gelei.
Die briljante deelnemers was Marcel Jacobs, Anita Schutte, Emma de Villiers, Lana Jacobs, Alta Botes, Sumari de Wet, Abigail Bain, Stansia Rens, Esmien Kruger, Jaco Mulder, James Kemp en Frans de Klerk. Die kwartet het bestaan uit Anneli de Villiers, Anje Boshoff, Annemarie van der Merwe, Stansia Rens en Cornelia Holm.
Die Karoo Klanke en Klingels Musiekskool het vir heerlike sop en broodjies gesorg en Theunie Kruger het gesorg dat die klanke oral perfek klink.
Die pennevrug van Willie Spies wat oor etlike maande in Beeld verskyn het, is nou in boekvorm en leen hom as ‘n bron van inligting, intellek en die meerderheid van die artikels kan tot kleurvolle debat lei.
Die Orania Ontwikkelingsmaatskappy het die boekbespreking, wat by die Oewer Restaurant aangebied is, geborg. Die gehoor het positiewe insette en kommentaar na afloop van die gesprek, wat deur James Kemp, nuut aangestelde Stasiebestuurder van PretoriaFM, gefasiliteer is.
Daar is nog heerlik na afloop van die bespreking om boeke en sinvolle gesprekke gekuier.
‘n Gesellige groep boekliefhebbers het by die Kantien ontmoet om die informele gesprek wat James Kemp en Dia van Staden met die skrywers gevoer het, aan te hoor. Dana Snyman, Stef Kruger, Willie Spies en Riaan Grobler het flink op ‘n lekker verskeidenheid vrae gereageer en die waarderende gehoor kon elkeen effens beter leer ken.
Lida Strydom en Dia van Staden het elk twee voorlesings uit Eie Rigting gedoen. Daar is boeke verkoop, geteken en bredie geniet terwyl almal die saamkuier geniet het.
Die Orania Sakekamer het bystand verleen met die uitnodigings aan hul lede om hierdie baie aktuele onderwerp, Belabeleid – ‘n affêre, te kom aanhoor. Dr Jaco Deacon van FEDSAS en Willie Spies, prokureur, het die gesprek onder leiding van James Kemp gevoer.
Daar is vrae uit die gehoor beantwoord. Die opname van die aanbieding kan vir nog ‘n paar dae op die Koerania Facebookblad geluister word. Die Orania Beweging het die stroming van die gesprek moontlik gemaak.