Op Saterdag 7 September is daar heerlik by die Orania Sportterrein na verskeie kunstenaars geluister tot die finale kunstenaar om ongeveer 22:00 sy laaste note gesing het. Meer as 2 000 mense het stelselmatig die sportterrein verlaat, maar daar was ‘n paar honderd wat duidelik nog nie klaar gekuier het nie.
Die onderskeie kuierplekke in Orania laat ruimte vir sosialisering. Orania se reëls vereis egter dat kuierplekke saans om 23:00 hul laaste drankierondtes aan kliënte bied en om 24:00 stil en gesluit is. Alle kliënte en personeel moet dan die perseel verlaat het.
Ettiene de Lange, hoof van die Orania Veiligheidsdiens (OVD), het aan Koerania bevestig dat daar voor die naweek se musiekfees met alle eienaars van kuierplekke vergader is om hul samewerking, veral na afloop van die fees, te versoek en te verseker.
“Ons kry die gevoel dat eienaars van kuierplekke teen OVD werk, en dit gaan seker maar oor geld wat gejaag word,” verduidelik Ettiene. Hy vertel hoe OVD-personeel tot na middernag die strate gepatroleer het, maar dat dié kuierplekke aangespreek moes word om hul deure die Sondagoggend om 00:30 te sluit.
“Oramed het OVD net voor middernag in kennis gestel van ‘n ernstige aanrandingsaak wat in ‘n kuierplek plaasgevind het. Die saak is wel in Hopetown by die SAPD vir verdere ondersoek aanhangig gemaak,” deel Ettiene. Die klaer en die skuldige party is aan OVD bekend en die dossier word bygehou. Die regspraakafdeling sal die saak moontlik verder met ‘n interne mediasieproses hanteer.
Koerania het van bronne verneem dat die Vluytjeskraalbrug as gewilde kuierplek deur jongmense aangewend word omdat dit buite OVD se jurisdiksie val. Daar is vasgestel dat OVD wel reageer wanneer inwoners, wat daar naby woon, kla dat daar geraas word, voertuie gespin word, ensovoorts. “Die brug is ‘n onveilige kuierplek omdat die sigbaarheid van aankomende voertuie ‘n probleem is. Die brug is deel van ‘n nasionale pad en buite Orania se grondgebied. Die SAPD sal egter onmiddellik optree indien daar oortredings is en oortreders gaan nie dan ligtelik daarvan afkom nie,” beklemtoon Ettiene.
Die gevolge vir kuierplekke wat nie die reëls gehoorsaam nie sal streng dopgehou word en OVD besef dat die gemeenskap se oë op hulle gerig is om in hierdie geval ook regverdig en konsekwent op te tree.