Op 8, 9 en 10 Augustus is Sakeliga KragDag Sentraal by die Diamantvallei Landgoed, 20km buite Pretoria, met groot sukses aangebied. Met ‘n slagspreuk soos “doen jou eie ding” was dit die perfekte plek vir Orania om ook drie van sy instellings daar te laat uitstal.
Pieter Biscchoff, hoof van inligting en bemarking by die Orania Ontwikkelingsmaatskappy vertel dat hul stalletjies deur besoekers genader is wat goed ingelig is oor Orania. Opmerkings soos “julle is die ouens wat vorentoe beweeg” en “julle is suksesvol” is gereeld geopper.
Volgens Pieter en Frans de Klerk, kommunikasiebeampte van die Orania Beweging, is daar telkens na Orania verwys as ‘n suksesverhaal van die Afrikaner. Daar word geraam dat ongeveer 17 000 voete per dag deur die hekke beweeg het. “Dit maak die byna 700km uitstappie definitief die moeite werd. Bloot net om mense se oë te sien rek wanneer hulle met verbasing opmerk dat Orania ook daar is het getoon dat Orania se betrokkenheid erken word,” noem Frans.
Paul Vogel, uitvoerende hoof van die Bo-Karoo Opleidingsentrum, wat die derde uitstalruimte namens Orania opgeneem het, sê: “Voornemende studente en hul ouers was nuuskierig oor ons kursusse en die feit dat ‘n student in veiligheid hul ambag kan bemeester.”
Die algemene terugvoer van Orania se verteenwoordigers is dat mense steeds meer wil uitvind oor Orania en vrae gevra het wat strek van die sonplaas tot Ora’s. Hul spreek die moontlikheid uit dat mense wil kom kuier om die dorp self te beleef.
“Dit is vir Orania ‘n belangrike mark om by betrokke te wees, aangesien daar baie Afrikaners in die ou Transvaal is wat opsoek is na ‘n toekoms vir hulle kinders, hul kultuur en hul geloof,” beaam die drie Orania instellings.
‘n Warm en stowwerige paar dae was met glimlagte aangepak om die swaarkry met lekkerkry klaar te kry.
Foto – Verskaf