Koerania Gemeenskapskoerant

Voggies maak jou vaal

Ek het ‘n hekel in drankmisbruik. Dronk mense is walglik en die reuk van iemand wat reeds ‘n oorvloed geneem het, maak my naar. Die ergste is dat iemand wat dronk is, nie besef dat hul onsmaaklik, onguur, ongemanierd, ongebalanseerd en onsamehangend raak nie. Wanneer die oorbedien van alkohol reeds die sin in onsin verander het, het ek reeds weggestap. Daai stoffie wat daar trek… dit is ek! En dan is daar vroue wat hulself daaraan skuldig maak. Wat doen jy met jou 3 breinselle wat oor is? Want jou taalgebruik, jou goedkoop lyftaal en sleeptong kan my (of enige ordentlike mens in die omtrek) nie beindruk nie. Dit is net ‘n dronker persoon by wie dit byval mag vind. Wat het van selfbeheer geword? Wanneer het selfrespek sy waarde verloor? Wat het van rasionele gesprek geword, sonder dat alkohol bedien word? Hoekom is die tonge meer los of gereed om gal te spoeg wanneer alkohol in oormaat vloei? “Ek is net ‘n sosiale drinker…” Ai, my liewe mater, jy leef in ‘n droomwêreld! Daardie rubberarm van jou kan sommer gou-gou gedraai word na “nog net enetjie” toe. Of praat ek nou nonsies? “Jy kry die waarheid by ‘n persoon wat effe oorbedien is…” SPAAR my dit! Jy wat dit glo, jy lieg ook! Dapperdruppels mag jy dit dalk noem, maar as jy my nie in die oë kan kyk wanneer jy nugter is, en dan die “waarheid” vertel nie, wil ek dit beslis nie met jou sleeptong hoor nie. “Dit is die enigste tydverdryf wat hier is…” Daardie opmerking kan my die mure uitdryf, of laat my opnuut die sportfasiliteite, wye verskeidenheid sportklubs, die wandelpaaie, die fietsryroetes, die pragtige swembad, netjiese parke, braaigeriewe en visvangplek opmerk. Dit is net ‘n paar opsies wat ek noem waar gesonde sosiale samesyn kan geskied. Deur iewers betrokke te raak gaan jou per maand minder uit die sak jaag as jou ongesonde energiedrankies of alkoholiese verversings. Hoe bevoorreg is ons om in ‘n plek te bly waar jy heerlike water uit die krane kan drink! Dit is nou voorwaar lekker om daardie voorreg te hê en dit te kan misbruik vir ‘n sterker innerlike. Gee dit ‘n kreatiewe naam om te voorkom dat jy daarvoor gespot word. Voeg ‘n ysblokkie of drie en ‘n suurlemoenskyfie by en siedaar! Spog met jou boorgatsap of damsap in ‘n glas. Nou het ek darem lus vir koffie! Ja, ek weet ‘n oormaat daarvan is ook nie goed vir ons nie! Skink hom maar flou. Jy mag ten minste jou woorde en optrede daarna nog vertrou. Ek klink ‘n koppie op dié wat selfrespek, selfbeheersing en selfliefde bo selfverwoesting stel!