Ek vermoed dat niemand “ongedeerd” deur ‘n feesseisoen kan kom nie. Indien jy een van daardie lede van ‘n gesin is wat pens-en-pootjies in die Kersfeesgees klim, is jy dalk nou eers moeg en benodig jy ‘n vakansie. Of jy dit nou liggies of volkome gevier het, mag 2024 jou met ‘n sagte landing beloon!
Dit is terug skooltoe vir kinders en ouers. Hierdie 12 jaar op die skoolbanke is ‘n realiteit. Tuisonderrig het intussen deel geword van baie gesinne se daaglikse lewens en natuurlik vereis dit heelwat meer insette van ouers, mentors of privaat onderrigsentrums waar individuele aandag en persoonlike voorkeurontwikkeling aandag geniet. Watter keuse jy as ouer ookal maak, mag jou kind as unieke individu groei.
Orania het deurgeloop onder die fratsreën wat ons gemeenskap gedurende Desember getref het. Dankie aan elkeen wat na ‘n buurvrou of buurman uitgereik het om ‘n handjie by te sit as daar nood was. #Onssalself is nie net ‘n leë slagspreuk nie, dit is Oraniërs se leefwyse.
Ek nooi elke inwoner om my te kontak indien daar ‘n interessante brokkie nuus is wat jy graag in Koerania sal wil sien. Dit moet egter nuuswaardig wees! Koerania is ‘n gemeenskapskoerant. Koerania sal maandeliks by www.koerania.co.za verskyn. Hou die Facebookblad dop vir meer inligting.
Indien jy jou besigheid wil adverteer is daar vele opsies. Kontak my by redakteur@koerania.co.za om jou advertensie te bespreek.
Sit aan die ketel en skink ‘n koffie, want 2024 is hier!