Wanneer ‘n gemeenskap gons is dit altyd ‘n goeie teken. Dit wys daarop dat daar gebeure of omstandighede is waarby hulle belang het, en daarom word daar gepraat, van mekaar verskil, en soms selfs ooreengekom.
Die geleentheid dat die spreekwoord: “slegs dooie visse swem saam met die stroom” in enige gemeenskap gereeld gebruik kan word, is nie altemit nie. Dit is egter nie uniek van Afrikaners om van mekaar te verskil nie. Ek gebruik graag die frase: “Waar mense is, is geen waarborge nie”. Ons is feilbaar, vrot van die foute en bloot gereeld hardkoppig.
In Orania is daar, soos in enige gemeenskap, al die uiterstes, en word diesulkes nie altyd met waardering bejeën nie.
Ek was onlangs gereeld in gesprekke met mense wat nie saamstem nie, maar wat emosioneel volwasse redenasies uitspreek. Hoe verfrissend! Dit sou tog so vervelig gewees het as ons almal ooreengestem het. Die aanmoediging van kwaliteit en sinvolle gesprek, wat nie eie gewin as oogmerk het nie, motiveer en lei tot deelname en dit skep hoop!
Om in die stoppels van jou baard te mompel help niemand. Wees ‘n spreekbuis vir verandering. Ja, almal is nie gemaklik met verandering nie, maar as ons vorentoe wil beweeg kan alles tog nie dieselfde bly nie.
Dit kan beslis nie net by lippetaal bly nie. Skouer aan die wiel met positiwiteit, sonder om opbouende kritiek te ignoreer, maak ons gemeenskappe sterker. Daar is geen individu of enkele instelling wat al die wysheid in pag het nie. Nuwe bloed moet toegelaat word om insette te lewer en dit skep weer ruimte vir opsies. Luister, redeneer, ondersoek, leer, pas toe en… HERHAAL!
Dit is al hoe ek nog altyd uitgevind het hoe min ek weet, en hoe baie ek nog kan leer. Wees leerbaar en skep moed daaruit. Onse Vader is die enigste volmaakte. Ons is nietig en moet gereeld by die bron van liefde se voete gaan sit om nederig te bly.
Skink daardie koffie terwyl die laaste stuiptrekkings van winter nog huiwer, maar moenie die geleentheid om iets buite jou gemak- en sogenaamde kennisveld by ‘n mede-inwoner te leer, laat verbygaan nie.
Dit sal jou lewe verryk!