Koerania

Ek is die afgelope maand met meer vrae as antwoorde gekonfronteer. Die rede is maar dat mens jouself met tye blootstel aan mense wat sterk opinies het, nie die status quo wil aanvaar nie, en belange daarby het om die dieper sin van die lewe te vind. Dit is egter daardie soektog wat jou op interessante spore kan laat loop – vorentoe en agtertoe.
Dit is Vrouemaand en ek is beslis nie daarteen dat elkeen sy plekkie in die son moet kry nie. Die toeken van dae en maande aan spesifieke groeperinge is maar ‘n bewys dat ons redes moet skep om mekaar te eer, want dit kom nie daagliks en vanself nie.
DUS is dit my voorreg om met fantastiese vroue omring te wees. Familie is tans ver, maar vriende en vroue in my dampkring kan my met tevredenheid en lekkerkry en bewondering vul! Is dit nie ‘n voorreg om na iemand te sit en luister en te sien hoe hulle hele wese saampraat en sy haar ervaring met soveel oorgawe met ander deel. Sonder pretensie. Dapper en beslis!
Koerania vier hierdie maand saam met verruklike vroue fees!
Dit bly vir Koerania ‘n oogmerk om suksesstories, leefstories, pionierstories en selfs flaterstories met ons lesers te deel. Daardie stories wat andersins nooit vertel sou word nie. Onthou die woord dankie, en gebruik die woord asseblief, want nog niemand het daarvan omgekom nie. Wees ‘n ambassadeur vir jou familienaam, vir jou waardes, vir jou dorp en vir jou geskiedenis.
Stuur gerus jou wenk vir ‘n nuuswaardige storie na redakteur@koerania.co.za en vertel ons gerus wat jy graag nog sou wou lees? Ons verwelkom jou advertensie om hierdie blad lewendig te hou. Gaan kuier op ons webwerf by www.koerania.co.za om ‘n intekenaar van die gedrukte weergawe van Koerania, slegs in Orania, te word.
Sit aan die ketel, ons is dors gekuier!

Post Views: 77